Bewaarders, voormalige gevangene in hof oor landdros se moord

Argieffoto

Twee bewaarders van Baviaanspoort- korrektiewe dienste en ʼn voormalige gevangene het Vrydag in die Pretoriase landdroshof verskyn in verband met die moord op ʼn landdros, Victor Mabunda.

Mabunda is in Desember in die oprit van sy huis in Bronkhorstspruit vermoor.

Die bewaarders, Thomo Ngoato en Paulos Fourie, is in hegtenis geneem in verband met die moord. Hulle het saam met hul medebeskuldigde, Thato Maringa, in die hof verskyn.

Ngoato het voor Mabunda verskyn op aanklag dat hy dwelmmiddels in die tronk ingesmokkel het. Mabunda is vermoor net voor hy uitspraak in die saak sou lewer.

Die mans is Vrydag daarvan beskuldig dat hulle die hofverrigtinge probeer uitrek nadat hulle verskeie versoeke ingedien het. Die drie het verlede maand, toe hulle in die hof verskyn het, beweer dat hulle in aanhouding deur tronkbewaarders en polisiebeamptes aangerand is. Hulle het mediese ondersoeke versoek sodat hulle vir hul beserings behandel kan word.

Landdros Adrian Bekker het die bewerings aanvaar en aanbeveel dat hulle ondersoek moet word, maar was teleurgestel om te hoor dat daar nie gehoor gegee is aan sy aanbevelings nie. Die beskuldigdes voer aan hulle kon nie die landdros se opdrag op ʼn J7-vorm lees nie. Bekker het dié bewerings verwerp. “As die beskuldigdes wou weet wat op die vorm staan, kon hulle moeite doen. Maar ek sal iemand met ʼn skoner handskrif vra om die aanbeveling te skryf.”

Adv. Matric Lupondo, hoofstaatsaanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê die verdagtes se strategieë pla hom nie, en bied die staat die geleentheid om verder ondersoek in te stel oor Mabunda se dood.

Maringa se prokureur hou vol dat sy kliënt steeds mediese behandeling benodig en hy kan daaruit voordeel trek. Maringa was vrygelaat op borgtog toe hy weer in hegtenis geneem is in verband met die landdros se moord.

Die staat het aanvanklik die drie aangekla op poging tot moord, maar het intussen ook moord met voorbedagte rade, sameswering om moord te pleeg, en die besit van ʼn vuurwapen en ammunisie tot die dossier bygevoeg.

Maringa het sy aansoek om borgtog laat vaar, en Fourie en Ngoato het gekies dat hul borgtogaansoek in Junie aangehoor word.

Ngoato se prokureur het aan die hof gesê sy kliënt het ʼn sielkundige by Kgosi Mampuru- korrektiewe dienste gekonsulteer en is aangeraai om ʼn psigiater te spreek. Hy hou vol sy kliënt moet gemonitor word, om te bepaal of hy aan ʼn sielkundige uitdaging ly wat medikasie vereis.

Die prokureur het ook probeer om die landdros te oortuig om ʼn beëdigde verklaring met Ngoato se skuldbelydenis, te verwerp. Hy het gesê sy kliënt moet nog ʼn psigiater spreek, en baie redes kan hieruit voortspruit wat die belydenis ontoelaatbaar sal maak. Die landdros het die versoek van die hand gewys.

Die drie sal weer op 21 Junie in die hof verskyn.

Ngoato sal afsonderlik op 12 April in die hof verskyn in verband met die dwelmsmokkelary.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lientjie ·

Siekte speel nou ‘n baie groot rol indien hy ‘n verdagte in enige misdaad verbind word.

KG ·

As ek die landdros was sou ek hulle beslis boegtog gee nie as jy vat wat met die vorige landdros gebeur het.

Dis ook vir my interessant dat soveel mense nou skielik deur die polisie in aanhouding aangerand word….shame nou is hulle ewe skielik die arme arme slagoffers….

CHRISTA ·

Dan wonder ons almal hoe al die misdadigers so MAKLIK kan ontsnap!! Hier is dit DUIDELIK: Die bewaarders is kop in een mus met die misdadigers!!

Michael ·

Liewe vader die helfte bewaarders is dan self ou misdadigers so wat verwag jy anders

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.