Bewaringsbevel bekom oor Ponzi-skema

Argieffoto (Foto: StockSnap / Pixabay)

Die Pretoriase batebeslagleggingseenheid (AFU) van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het vandeesweek in die Pretoriase hooggeregshof ʼn bewaringsbevel van meer as R4,3 miljoen bekom om ʼn bankrekening van Piggy Farm Trading te bevries.

“Die Piggy Farm Trading-maatskappy het ʼn Ponzi-skema bedryf waar individue tot 50 virtuele varke teen R2 750 per vark kon aanskaf in ʼn digitale Metaverse-varkplaas,” sê Lumka Mahanjana, woordvoerder van die NVG.

Aangesien dit ʼn virtuele vark is, is die belegging risikovry, want die vark word met ʼn ander vark vervang indien dit sou vrek.

“Beleggers sou R550 per maand vir 12 maande betaal word en ná 12 maande word die vark aan Piggy Farm Trading teruggegee.”

Mahanjana sê ná klagtes deur beleggers ontvang is, het die Nasionale Verbruikerskommissie (NCC) ondersoek ingestel. “Daar is bevind dat die plaas ʼn veelvuldigingskema bedryf het. ʼn Effektiewe rentekoers van 140% is aangebied – wat die repokoers met meer as 20% oorskry. Dit is ʼn oortreding van die Nasionale Verbruikersbeskermingswet. Verdere ondersoeke deur die AFU het onthul dat die hele skema oënskynlik ʼn bedrogspul is.”

Die naam en/of ligging van die sogenaamde plaas is nooit op Piggy Farm Trading se webwerf of enige ander sosialemediaplatform bekendgemaak waar die skema geadverteer is nie.

“Piggy Farm verwys slegs na ʼn adres in die Durbanse middestad en sy verskillende takke. Dit is dus te betwyfel of ʼn plaas of selfs varke ooit bestaan tot die mate van beleggings wat ontvang is. Die fondse wat as beleggings ontvang is, dui op ʼn varkplaas op ʼn megaskaal.”

In Februarie 2024 het Piggy Farm Trading se bankbalans op meer as R16 miljoen gestaan.

“Die AFU het gevolglik bepaal dat daar geen onderliggende sakemodel is nie en nuwe beleggers is betaal uit vorige beleggings om die skema aan die gang te hou. Dit is alles tekens van ʼn klassieke Ponzi-skema.”

Mahanjana sê die skema is onvolhoubaar en sal waarskynlik inplof wanneer geen nuwe beleggers gelok kan word nie en die meerderheid van beleggers verloor dan hul geld.

Martin Mafojane, Pretoria-streekhoof van die AFU, het die bevel verwelkom en die publiek gewaarsku om in soortgelyke skemas te belê waar die beloofde wins die rentekoers van geloofwaardige instansies oorskry.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Ek kan nie glo dat daar werklik mense is wat geld in sulke dagdrome belê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.