Bewaringsbevel oor bedrog by Loterykommissie bekom

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Nationale Lotteries Commission/Facebook)

Die batebeslagleggingseenheid het ‘n bewaringsbevel bekom vir verskeie eiendomme wat die opbrengs was uit onwettige aktiwiteit by die Nasionale Loterykommissie (NLK).

Die Pretoriase hooggeregshof het die bewaringsbevel kragtens die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad bekragtig. Dit volg ná ernstige bewerings van wanadministrasie en korrupsie.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die spesiale ondersoekeenheid (SOE) is deur die president opdrag gegee om verskeie sake vir die periode vanaf 2014 te ondersoek.

“Die SOE het grootskaalse korrupsie, bedrog, diefstal en oortreding van die Loterywet onthul teen beamptes van die NLK en sekere nie-winsgerigte organisasies (NWO’s) wat aansoek gedoen het vir NLK-toelaes. Hulle het met mekaar saamgewerk om die NLK te bedrieg.”

Die voorlopige ondersoek deur die SOE het onthul dat die NLK byna R344 miljoen uit die toelaes verloor het wat geoormerk was vir behoeftige gemeenskappe soos die herbou van ʼn skool wat tydens betogings in Vuwani in Limpopo afgebrand is; ʼn dwelmrehabilitasiesentrum in Eersterust in Gauteng; en die konstruksie van ʼn ouetehuis in Kuruman in die Noord-Kaap.

“Die toelaes is aangewend om luukse eiendom aan te koop tot voordeel van werknemers van die NLK en lede van die NWO’s en/of hul familielede of vriende. In meeste gevalle is die eiendomme geregistreer in die name van die entiteite en nie in die naam van privaat individue nie. Sommige entiteite is voorgedoen as konstruksiemaatskappye, maar het nie enige (of baie min) konstruksiewerk verrig nie en is effektief as ʼn geldwasserymiddel gebruik om agterafbetalings van die NWO’s te bekom.”

Nege luukse residensiële eiendomme ter waarde van R22,4 miljoen, ʼn BMW 420i-afslaankapmotor en twee Ocean Basket-franchises wat met die toelaes verbind word, is onder bewaring geplaas.

“Die volgende stap is om aansoek te doen vir ʼn beslagleggingsbevel. Sodra dit toegestaan is, sal die eiendomme op ʼn openbare veiling verkoop word en die opbrengs sal aan die NLK terugbesorg word.”

Strafregtelike sake is aanhangig gemaak teen die voormalige finansiële beampte Philemon Letwaba, uitvoerende hoof Lesley Ramulifho, en die prokureur wat regswerk vir die NLK gedoen is en geïmpliseer is in die bedrog en korrupsie. Die ondersoeke duur voort.

“Die NVG wil die publiek gerus stel dat hy onvermurfbaar is in sy stryd teen georganiseerde misdaad, insluitend dié werknemers in regeringsinstansies wat van die mees kwesbare gemeenskappe steel om hulself te verryk en hul weelderige leefstyle te finansier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Herman L ·

Diefstal van R344, maar slegs R22 miljoen en nog ‘n paar ander is onder die bewaringsbevel. Dit lyk na ‘n amateuragtige poging.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.