Bewaringsbevel teen direkteure van maatskappy met Gupta-bande

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se kantoor in Pretoria. (Foto: Google Maps)

Die ondersoekdirektoraat van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ʼn beperkingsbevel  van meer ʼn R1 miljard verkry teen die direkteure van die Regiments-groep, asook die groep self, op grond van die feit dat die individue en entiteite óf by beweerde misdaad gebaat het, of in besit is van eiendom van diegene wat daarby gebaat het.

Die direktoraat se ondersoek hou verband met beweerde bedrog en korrupsie met die toekenning van tenders en/of kontrakte vir die aankope van lokomotiewe, sowel as spoorinstandhoudingswerk by Transnet tussen 2010 en vanjaar.

Luidens ʼn verklaring van die NVG het die hooggeregshof dié bevel Woensdag toegestaan.

“Die bevel magtig die curator bonis [die regsverteenwoordiger wat deur ʼn hof aangestel is] om beheer te neem van bates van meer as R1 miljard. Beslaglegging op bates van diegene wat dit onwettig deur die plundering van staatskoffers bekom het, is ʼn belangrike deel van die NVG se strategie om toenemende korrupsie in die land hok te slaan,” het Bulelwa Makeke, woordvoerder van die NVG, gesê.

Die Regiments-groep het bande met die omstrede Gupta-familie.

Die bevel hou verband met klagte van bedrog, korrupsie en geldwassery teen Regiments toe hy as transaksieraadgewer vir Transnet opgetree het en ʼn beleggingsdiens vir Transnet se tweede vastevoordeelfonds gelewer het. Dié fonds is nou bankrot en verarmde beleggers sukkel jare reeds om geld uit die fonds te kry. Regiments het eers ʼn paar dae gelede ingestem om R530 miljoen aan die pensioenfonds terug te betaal.

Die aansoek is genoodsaak omdat Regiments se bates na verwagting vrygestel sou word van ʼn private teenverkwistingsbevel  wat die fonds vroeër bekom het. Die NVG sê die mees waarskynlike gevolg sou wees dat Regiments se waardevolste bates, aandele en kontant, verkwis sou word.

“Die beperkingsbevel verseker dat die pensioenarisse wat staatmaak op die fonds toegang het tot die aandele waarop hulle geregtig is,” het Makeke gesê.

Die kurator het ʼn bykomende R600 miljoen se kontant ook laat bewaar.

Volgens die NVG is die ondersoek na die Regiments-groep se optrede in ʼn gevorderde stadium.

“Die ondersoekdirektoraat kan nou ook toegang verkry tot die Regiments-bediener wat voorheen bekom is deur ʼn Anton Piller-bevel [ʼn bevel wat toestemming gee vir deursoeking van ʼn perseel en beslaglegging op eiendom sonder vooraf waarskuwing] deur Transnet en wat nou in die besit van die staatskapingskommissie is.”

Dit beteken die NVG het nou toegang tot alle bewyse op die bediener en kan dit ontleed.

Die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek het vroeër vanjaar gehoor die konsultantefirma McKinsey & Company is aangestel om Transnet te adviseer oor die aankoop van die lokomotiewe, maar kon nie die vinnige sperdatum haal nie en het onttrek. Regiments Capital, destyds McKinsey se vennoot, het oorgeneem, maar dit lyk of McKinsey die transaksie eintlik aan Regiments “oorgedra” het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Arak

Hoogtyd dat McKinsey ook bietjie ondersoek word. Wat van die miljard wat hulle sommer so vinnig vinnig terug betaal het wat hulle “onregmatig” betaal is, dit terwyl hulle al etlike jare hierdie miljarde ontvang het. Gaan soek maar ons geld by die McKinseys en Accentures van die wêreld. Hulle weet hoe om te plunder.

Anti DA

Ek begin daai gevoel kry dat die NVG net geld wil invorder, en dat skuldiges nooit tronk toe sal gaan nie. Dink ook nie dat die sogenaamde regs stelsel die lus het om vriende op die vingers te tik nie. Die korrupsie is hemels hoog op alle vlakke. Dis net n smokescreen om publiek besig te hou.