Bewaringsbevel teen oud-LP Vincent Smith toegestaan

Die voormalige ANC-LP Vincent Smith. (Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die Johannesburgse hooggeregshof het ʼn bewaringsbevel vir die bates van die voormalige parlementslid Vincent Smith, sy maatskappy Euro Blitz 48, en sy familietrust – ten bedrae van R46 miljoen – bekragtig.

Die hof het in Februarie vanjaar ʼn tussentydse bevel aan die nasionale direkteur van openbare vervolgings toegestaan wat nie net met Smith se eiendom verband gehou het nie, maar ook met dié van sy familietrust, sy maatskappy en ʼn eiendom in die naam van sy dogter, Brumilda. Dieselfde het die eiendom gegeld van enige ander mens of entiteit wat ʼn geskenk ingevolge art.12 van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca) ontvang het.

Smith en die ander partye betrokke word nou verbied om van enige van die eiendom ontslae te raak of daarin handel te dryf terwyl die bewaringsbevel geld.

“Die kurator wat die hof aangestel het, PwC [die ouditfirma PricewaterhouseCoopers], sal steeds die bates beheer, hangende die uitslag van die strafsaak teen Smith en Euro Blitz 48,” sê Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die onafhanklike ondersoekdirektoraat (OD).

Die bevel spruit uit ʼn ondersoek teen Smith, Euro Blitz 48 en medebeskuldigde Angelo Agrizzi.

Smith en Agrizzi het vroeër reeds in die Palm Ridge-handelshof op aanklag van bedrog en korrupsie verskyn ná bewerings dat Smith en sy maatskappy omkoopgeld van R800 000 van Agrizzi – Bosasa se bedryfshoof – of van die maatskappy ontvang het.

Smith was destyds die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor korrektiewe dienste (DKD). In hierdie tyd is Bosasa ondersoek nadat die DKD tenders van sowat R1 miljard aan Bosasa toegeken het. Die kontrakte is na bewering op korrupte wyse aan die maatskappy gegee.

Smith is glo betaal om te verseker dat opposisiestemme oor Bosasa tydens komiteevergaderings stilgemaak word.

Hy het vroeër reeds onskuldig op die aanklagte teen hom gepleit en voer aan die geld was ʼn lening van Agrizzi – ʼn bewering wat Agrizzi ontken.

Maroela Media het vroeër ook berig die saak teen Smith en Agrizzi is van mekaar geskei weens Agrizzi se swak gesondheid. Die saak word weer volgende maand hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Skelmgeid vervolmaak en lyk trots daarop dat hul uitgevang is.

Kobus ·

Die ANC moet hulle slagspreuk verander na ” Gaan groot of gaan huistoe”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.