Bewaringsbevel vir miljoene in Vrystaatse korrupsiesaak

(Argieffoto: Unsplash)

Die hooggeregshof in Bloemfontein het ʼn bewaringsbevel van R249 miljoen aan die Batebeslagleggingseenheid toegestaan in verband met ʼn ondersoek waarin ʼn maatskappy miljoene rande betaal is om projekte namens die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling te bestuur.

Die bevel is bekom teen Lenah Mohapi (55), eienaar van Superior Quality Trading, en Sylvia Dlamini (49), ʼn voormalige finansiële hoof van die departement.

Sipho Ngwema, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê ʼn gesamentlike ondersoek deur die Valke, in samewerking met aanklaers van die handelsmisdaadeenheid en die direkteur van openbare vervolging in die Vrystaat, het in Julie verlede jaar tot die twee se inhegtenisneming gelei.

In September is die voormalige departementshoof, Mbana Thabethe (54), asook Lerato Mngomezulu (39), Disebo Masiteng (59), Mokemane Ndumo (52) en Mahlomola Mofokeng (55) – almal lede van die departement se bodbeslissingskomitee – ook by die klagstaat gevoeg.

Hulle staan gesamentlik tereg op 54 aanklagte van vervalsing, uitgifte, bedrog, korrupsie en geldwassery ten bedrae van R249 miljoen, sê Ngwema.

Al die beskuldigdes is vroeër reeds vrygelaat op borgtog van R10 000 elk.

Die beweerde bedrogspul het aan die lig gekom tydens ʼn ondersoek na die omstrede Estina-suiwelprojek en ʼn ontleding van die bankrekeninge daarby betrokke. Tydens hierdie ondersoek is daar op beweerde ongerymdhede en versteekte betalings aan een van die amptenare afgekom.

Die amptenare het glo verskeie kontrakte toegeken aan Superior Quality Trading – wat ook sake gedoen het as Rekgonne Community Projects – selfs al het die maatskappy nie die departement se verpligte inligtingsessies oor tenders bygewoon nie.

Ngwema sê die maatskappy het ʼn sertifikaat van bywoning gehad, selfs al is dit nie verteenwoordig by die vergadering waar die sertifikate uitgereik is nie.

Die departement het tussen 2012 en 2016 glo meer as R244 miljoen aan die maatskappy betaal.

Mohapi, as direkteur van Superior Quality Trading, het in hierdie tyd na bewering groot bedrae geld in Dlamini – die finansiële hoof – se rekening inbetaal. Die betalings is versteek as terugbetalings aan Telkom, asook vir mediese dienste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maggies ·

Dit bly maar net ‘n bose kringloop van jy help my, dan help ek jou. Skelm bly skelm.

Johann ·

Mmmmm? Lekker praktiese voorbeeld vir CEROL om sy BLA BLA BLA feitelik te kan beLIEG…askuus bedoel belig. Hyt mos nou name en bedrae en gebeure. So hy kan mos nou mooi verduidelik presies HOE hy en sy medevergrypers “kader ontplooing” sien as tot voordeel van RSA en hoe effektief en goedkoop dit is?

Kokerboom ·

Vrygelaat(kan jy meer!) op borgtog van R10000!!!! Die regstelsel is ‘n klug!!NIKS van die belastingbetalersgeld sal ooit verhaal kan word! Dis lankal spandabelrig uitgelewe!! ACE glimlag al die pad vir die gekaapte regstelsel!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.