Beweerde blouligbende vas

(Foto: SAPD)

Drie verdagtes, wat moontlik deel vorm van ʼn blouligbende wat dele van Mpumalanga teister, is Donderdag in hegtenis geneem vir roof, die besit van moontlik gesteelde goedere en omdat hulle hulself as polisielede voorgedoen het.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie is bewus van ʼn hele aantal gevalle waar misdadigers blou ligte vir motoriste flits en aandui dat hulle moet stilhou en hulle dan van hulle besittings of vrag, in die geval van vragmotors, beroof.  “Die slagoffers word soms vanaf Gauteng of Nelspruit gevolg en dan naby Delmas of Witbank voorgekeer.”

Hlathi sê polisie van Gauteng en Mpumalanga het saamgewerk en die verdagtes vanaf Gauteng agtervolg.  “Donderdag het polisie ʼn VW Polo op die N4 gesien wat by die beskrywing gepas het van die voertuig waarvoor hulle op die uitkyk was.  Die voertuig het drie insittendes gehad en die polisie het aan die bestuurder aangedui om af te trek.  Die bestuurder het egter die versoek geïgnoreer en ʼn jaagtog het gevolg,” sê Hlathi.  Die verdagtes is uiteindelik by Emalahleni (Witbank) voorgekeer en die polisie het polisiekaarte en selfone wat glo aan slagoffers behoort, in die verdagtes se besit gevind.  “Die drie is onmiddellik in hegtenis geneem en aangekla.”

Hlathi sê die inhegtenisname van die verdagtes vorm deel van die polisie se pogings om ʼn einde te bring aan misdadigers wat hulself as lede van verskeie wetstoepassingsowerhede voordoen en lede van die publiek dan beroof.

Volgens Hlathi word die verdagtes verbind met ʼn aantal misdade wat hoofsaaklik in Mpumalanga en Limpopo gepleeg is. “Ons is egter nie oortuig dat hierdie die enigste verdagtes is met dié modus operandi wat bedrywig is rondom Delmas en Witbank nie.” Die polisie sal nou die ondersoek uitbrei om te probeer vasstel of die drie betrokke was by ʼn vlaag misdade in die Hazyview en Witrivier-omgewing.

Die verdagtes sal na verwagting vandag (Maandag) in die landdroshof op Witbank verskyn.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mikki ·

En dan wil hulle nog hê ons moet stil hou vir die blou flikkerende ligte! Dis dalk glad nie die polisie nie maar hierdie rowers!

Johan ·

Kyk maar mooi, hulle is regte polisiemanne wat die crooks se werk oorgeneem het

Scalla ·

Verban alle blou ligte, slegs gemerkte Sapd voertuie, ek weet van n privaat prokureur wat se swart Fortuner toegerus is met blou ligte, Wat bepaal die wet in die verband?

Leon ·

Hy is moontlik ‘n polisie reservis. Hy kan ook betrokke wees by polisie klopjagte waar hulle van wetsmense gebruik maak om teenwoordig te wees by klpojagte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.