‘Brits-betogers’ uit op borgtog van R500

Oukasie-inwoners betoog buite die hof. (Foto: ANA)

Nege mense is Donderdag elkeen op borgtog van R500 in die Brits-landdroshof in Noordwes vrygelaat nadat hulle in hegtenis geneem is vir hulle beweerde betrokkenheid by die gewelddadige betoging vroeër vandeesweek by die Oukasie- informele nedersetting buite dié dorp.

Die verdagtes is vandeesweek in hegtenis geneem op aanklagte van roof. Die staat voer aan dat die verdagtes na bewering drie vragmotorbestuurders gedurende die betoging aangerand het waarna hulle die vragmotors se sleutels van die bestuurders afgeneem het om die voertuie te gebruik om die pad te versper.

In een geval is ʼn hamer, ʼn byl en ysterpaal gebruik om die bestuurder te dreig voordat betogers die sleutels van hom afgeneem het.

Maroela Media het vroeër berig betogers het Maandagoggend van Oukasie na die munisipale kantore in die dorp opgeruk waarna paaie met brandende buitebande versper en motors met klippe bestook is.

Vragmotors is gedurende die betoging voorgekeer waarna betogers dié voertuie gebruik het om die paaie te versper. Dit was aanvanklik onduidelik hoeveel vragmotors voorgekeer is aangesien sake van motorkaping vroeg vandeesweek nog by die polisiestasie ingedien is, het kol. Adele Myburgh aan Maroela Media gesê.

Die staat het die verdagtes se aansoeke om borg teengestaan aangesien die verdagtes se adresse nog nie in die hof bevestig kon word nie. Die hof was egter nie ten gunste van ʼn uitstel nie.

Die verdagtes se regsverteenwoordiger, Jeff Moyo, het aangevoer dat daar nie bewys kan word dat die verdagtes die misdaad gepleeg het nie. Moyo het gesê die verdagtes is gesiene lede van die gemeenskap en dat die gemeenskap ten gunste van borgtog is.

Altesaam 42 mense is vandeesweek gedurende die betoging in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld. Die aanklagte is egter teen dié verdagtes teruggetrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
? leser

r500.00 rand borgtog, waar in jou lewe het jy dit gesien
hoeveel skade het hulle aangerig, betaaal die borg en dis die laaste sien van die skarmunkels
beskadigde eiendom gaan nie altyd deur versekering betaal word nie
ek LMGA vir die afrika sirkus

Alida

Gesiene lede nogal! Gesiene mense werk vir n lewe en probeer vorentoe beweeg. Lyk daai klomp of hulle werk? Nee wat die sirkus begin nou eers. Ons eerste huis was gekoop in Bodensteinpark in 1971 toe was daar al gepraat van verskuiwing van Oukasie. Wat nou.

Pieter du plessis

Hoekom is die sake teruggetrek,wat steek die polisie weg?

Chris Ws

Die hof is een groot sirkus!

Andre

Hulle kry R500 borg vir motorkaping? Goeie genade! Hulle adresse is nog nie bevestig nie maar die Hof staan borg toe? Nog nooit daarvan gehoor nie! En die ander 31 beskuldigdes word sommer toegelaat om te gaan hulle gaan nie vervolg word nie! Wat ‘n absolute sirkus!