Beweerde grootkop agter R300 m-heroïenvonds vasgetrek

Argieffoto

Die 48-jarige Peter Hering, ʼn beweerde grootkop agter die groot heroïenvonds wat die polisie in Junie vanjaar net buite Villiersdorp in die Wes-Kaap gemaak het, is vandeesweek in hegtenis geneem.

Die Valke het vroeër ʼn lasbrief uitgereik vir Hering en Peter Ross, albei glo buitelandse burgers, nadat hulle met die vonds verbind kon word.

Die polisie het in Junie vanjaar minstens een verdagte in die saak, Ortega Rodriquez van Nederland, tydens die klopjag in hegtenis geneem, maar sowel Hering as Ross het daarin geslaag om te ontsnap. Hulle het na bewering kort ná die uitreiking van die lasbriewe na die buiteland gevlug.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, sê Hering is op die Kaapstad Internasionale Lughawe in hegtenis geneem kort nadat hy van Abu Dhabi geland het.

Die heroïenvonds ter sprake was glo 963 kg met ʼn straatwaarde van ongeveer R300 miljoen.

Rodriquez het intussen verskeie kere in die hof verskyn en is op borgtog van R100 000 vrygelaat. Hy is in 24 uur-huisarres en moet hom twee keer per dag by ʼn polisiestasie aanmeld. Hy sal weer op 10 November in die hof verskyn.

Ramovha sê Hering sal Woensdag in die Caledon-landdroshof verskyn.

Ross is steeds op vrye voet en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming is steeds van krag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

snoefie ·

kyk watse gemors word in Suid Afrika toegelaat! nee! sies! ons het meer as genoeg eg Suid Afrikaanse kriminele.

CHRISTA ·

Hulle moet ook net weer gaan vasstel of daardie dwelms nog in veilige bewaring is. NIKS is vandag meer in ons polisie se hande “veilig” nie – hulle verloor tot hulle vuurwapens!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.