Beweerde kindermishandeling glo maande later steeds nie ondersoek

(Argieffoto: Pixabay.com)

Sewe maande nadat die Sinoville-krisissentrum, ʼn maatskaplike organisasie in Pretoria, die verwaarlosing en beweerde mishandeling van vyf sibbe in Pretoria-Noord by die polisie aangemeld het, het dié skynbaar niks aan die saak gedoen nie. Só vertel Colleen Strauss, die uitvoerende hoof van die Sinoville-krisissentrum.

Sake van seksuele aanranding, kindermishandeling en -verwaarlosing is op 15 November verlede jaar by die Pretoria-Noord-polisiestasie teen die kinders se biologiese ma en haar kêrel aanhangig gemaak. Hulle bly in ʼn klein huisie in Haakdoornboom in Pretoria-Noord.

Lede van die Haakdoornboom-omgewing het voordat die saak by die polisie geopen is, die krisissentrum genader nadat die gesin se een maand oue babaseuntjie op ʼn onnatuurlike wyse gesterf het. “Dit is toe dat die gemeenskapslede ook van die haglike omstandighede van die ander kinders in die gesin bewus geword het,” vertel Strauss.

Strauss sê die kinders het glo snags “pienk pap” gekry om te eet en het geen ander kos gedurende die dag gekry nie.

“Hulle is ook glad nie gebad nie. Nadat die skool die familie by maatskaplike dienste aangegee het, het die kinders ook nie meer skool toe gegaan nie,” vertel Strauss.

Strauss sê die kinders is ook na bewering geslaan as hulle te veel geëet het en volgens die sibbe moes hulle na hul bababoetie omsien sedert sy geboorte.

“Daar is glo ook pornografiese foto’s van die kinders geneem en op ʼn pornografiese webwerf geplaas,” vertel Strauss.

Strauss sê niemand weet waar die biologiese pa is nie.

Die kinders is aanvanklik in pleegsorg geplaas, maar is later na ʼn ander kinderhuis oorgeplaas.

Strauss sê tot op hede het die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) nog geen verdere kontak met die klaer gehad nie. “Hulle het ook geen verklarings van ander lede van die gemeenskap geneem, of die kinders geassesseer nie.”

Strauss sê die biologiese ma en haar kêrel is ook al glo vroeër by die polisie aangekla, maar daar is geen rekord van die saak by die polisie geregistreer nie.

“As die polisie destyds al behoorlik ondersoek ingestel en ingegryp het, sou die babaseuntjie vandag nog geleef het. Dit is net nog ʼn klassieke voorbeeld waar rolspelers in die kinderregstelsel kinderslagoffers in die steek laat,” sê Strauss.

Die krisissentrum het herhaaldelik briewe aan die polisie gerig om te vra wanneer die gemeenskapslede se verklarings geneem gaan word. “Al ons navrae word net geïgnoreer,” vertel Strauss.

Die krisissentrum eis dat die polisie ʼn senior FCS-amptenaar aanstel om die saak te ondersoek en die nodige verklarings te bekom.

Maroela Media is in besit van die saaknommer en het ook navraag by die betrokke polisiestasie gedoen, maar tot dusver geen terugvoer gekry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Party ouers verdien rerig nie om kinders in die wereld in te bring nie!

ES ·

Hieraan moet dadelik aandag gegee word! Skokkend dat niemand oor die welstand van minderjariges omgee nie. Almal wat in hul plig versuim het om hierdie kinders te help en die skuldiges te vang moet vervolg word as medepligtiges van kindermishandeling.

Dit is hoogtyd dat mense soos hierdie baie swaar vervolg word!

Jaco ·

as dit wit kinders is, verbaas die versuim om op te tree my nie. wit mense is mos maar 2de klas burgers van SA. Maar as dit swart kinders is, dan is dit ‘n skande. hoe kan our people so swak vir our people sorg?

Cherokee ·

Hierdie is nie naastenby so erg, maar dit gaan steeds oor onbevoegde polisie-lede. Gisteraand om sowat 10:30 het ek die polisie gebel oor ‘n huurder in ‘n woonstel, wat heel dronk net so dronk vroue besoekers onthaal het en heel lawaaierig was. Die polisieman het gevra wat hy moet doen. … Ek het die foon neergegooi en die eienaar van die sekuriteit skema gebel en hom opdrag gegee om sy sekuriteitswag te gaan help. Twee dronk vroue is uit die woonstelblok verwyder en die vangwa wat belowe is, het nooit daar opgedaag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.