Beweerde ongerymdhede in Gautengse e-regering ondersoek

Die Gautengse sentrum vir sekerheidsbedrywe (GSOC) beskerm die e-regering beskerm teen kuberkrakers. (Foto: Pixabay)

Nomantu Nkomo-Ralehoko, LUR vir finansies en e-regering, het versoek dat ʼn tender vir die beveiliging van die Gautengse regering se aanlyn inligtingstelsels ondersoek word. Dít nadat verskeie mediahuise berig het oor beweerde ongerymdhede in die aanstelling van die nuwe diensverskaffer vir die Gautengse sentrum vir sekerheidsbedrywe (GSOC).

Dié sentrum moet die Gautengse e-regering beveilig en veral beskerm teen kuberkrakers.

Só ernstig is die bewerings van ongerymdhede dat Gautengse premier David Makhura nou selfs die spesiale ondersoekeenheid gevra het om die tenderproses te ondersoek.

Luidens dié gerugte is ʼn kontrak van meer as R22 miljoen aan In2IT Technologies toegeken deur middel van ʼn tenderproses wat binne 24 uur afgehandel is. Die tenderproses het op 26 Maart geopen en dié diensverskaffer het glo binne twee uur nadat die proses begin het, sy aansoek ingehandig. Gevolglik het GSOC Services, die maatskappy wat lank die departement se diensverskaffer op ʼn maand-tot-maand-grondslag was, gekla dat sy tender nie in ag geneem is nie.

Makhura het sy kommer oor die bewerings uitgespreek en gevra dat die ondersoekeenheid die bewerings ondersoek sodat die regte stappe gedoen kan word indien daar wel waarheid in steek.

Nkomo-Ralehoko eis ʼn volledige verslag van alle belanghebbendes en sê die betrokke departemente sal administratief en finansieel aanspreeklik gehou word vir enige ongerymdhede wat moontlik opduik.

Sy het ook ʼn beroep gedoen op alle diensverskaffers wat met die Gautengse regering sake doen om aan alle wetlike vereistes te voldoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.