Beweerde ontvoeringsindikaat oopgevlek

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Lede van ʼn vermeende sindikaat wat ontvoerings in en om Gauteng uitvoer, is die afgelope naweek in hegtenis geneem nadat hulle ʼn man gekaap en ontvoer het. Die beweerde meesterbrein agter ʼn aantal ander ontvoerings in dié provinsie is ook nou agter tralies, terwyl sy jongste slagoffer dae later eers met sy familie herenig is.

Kol. Dimakatso Sello, polisiewoordvoerder, sê die 47-jarige slagoffer is verlede Woensdag in Hillbrow gekaap en deur ses mans ontvoer.

Die Gautengse eenheid vir georganiseerde misdaad en speurders van Hillbrow het saam met die nasionale taakspan wat ontvoerings vir lospryse ondersoek en die Ekurhuleni-metropolisie gewerk om dié ontvoeringsvoorval te ondersoek.

“Die span het daarin geslaag om een verdagte Saterdag in hegtenis te neem terwyl nog twee onderskeidelik Sondag en Maandagoggend by verskillende huise in Daveyton vasgetrek is,” sê sy.

“Die slagoffer is eers vroeg Maandagoggend by ʼn huis in Crystalpark aangetref. ʼn Verdere drie verdagtes is by die einste huis in hegtenis geneem.”

Volgens Sello het die slagoffer geen sigbare beserings opgedoen nie, maar is nietemin na ʼn hospitaal geneem.

Hy is sedertdien met sy familie herenig.

Een van die verdagtes is vermoedelik die meesterbrein agter talle ander ontvoerings in Gauteng. Hy is glo uit op borgtog vir drie ander gevalle van kaping, ontvoering en afpersing.

Lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiekommissaris, sê hy is verlig dat die slagoffer ongedeerd gevind is, maar is steeds bekommerd oor die toename in ontvoerings in die provinsie.

“Kapings en ontvoerings raak ʼn groot probleem in Gauteng, maar dit is verblydend om te sien dat die maatreëls wat ons ingestel het, positiewe resultate lewer.”

Maroela Media het vroeër berig dat daar ʼn toename van nagenoeg 25% in die voorkoms van ontvoerings tussen Julie en September vanjaar was. Gauteng het die meeste van dié ontvoerings aangeteken, met ʼn toename van 69% in ontvoeringsgevalle, in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.

Volgens misdaadstatistieke wat Vrydag deur die minister van polisie bekendgemaak is, hou meeste ontvoerings met kapings verband. Die kaping en ontvoering van die Moti-broers in Oktober het veral opslae gemaak nadat hulle weke later eers met hul ouers herenig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Chris dupreez ·

Hy is uit op borgtog , vir kaping, ontvoering en afpersing. Dit wys jou ,nê. Hou hom in die tronk.

Pieter ·

Die anc land se regstelsel is om van naar te word die regters en landroste is seker op die mense se pay roll

Nettie ·

Uit op borgtog daar moet glad nie borgtog op sulke dade gegee word nie. Hy nog nie eers sy straf gekry en is alweer klaar besig met dit waarvoor hy in die 1ste plek gevang was. Nee die regering kan nie die land regeer nie.

Deon ·

Lagwekkend!!!!! Die persoon word op borgtog vry gelaat dan gaan hy maar net weer aan waarvoor hy in die eerste plek gevang was, watter geld is gebruik om sy borgtog te betaal? Was dit geld wat deur ontvoering verkry was? Hoeveelste geval is hierdie dat n persoon op borg of parool gesit word, en dan gaan hy maar net weer aan met sy manewales? Verstaan die gereg wat n “misdadiger” is? Verstaan hulle dat hulle met mense lewens speel, die lewens wat hulle veronderstel is om na om te sien? Nog n vraag, was hierdie in hegtenisneming dalk net om ons te paai want hulle weet waar n “ontvoerder” woon en dis maklik om die persoon te kry en dan gou op te tel en ons almal klap hande en voel veilig maar intussen is dit alles net n klugspul? Ek dink ons kan dalk begin vra dat daar na die gereg stelsel gekyk word om hierdie tipe ding te verhoed in pleks daarvan om te vra vir “gooi sleutel weg”

JohnnyS ·

Hulle is sommer weer vinnig uit op borgtog. Dit is mos deel van mense (lees kriminele) regte onder ons fantastiese grondwet.

SlinkseKoljander ·

As hulle maar net soveel werk inspan om plaasmoorde te stop.

Perdeby ·

Weer een wat uit was op borgtog vir dieselfde oortredings. Die howe sal moet begin wakker skrik. Al hierdie mense wat so ontvoer is moet net die staat maar dagvaar.

Hennie ·

Moenie worrie julle, die gemors sal more weer op straat wees… R 50 borg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.