Beweerde reeksmisdadiger weer agter tralies

Dié wapen is in die verdagte se besit gevind. (Foto: Polisie)

ʼn 40-jarige voortvlugtige wat aanvanklik in hegtenis geneem is vir 19 ernstige en geweldsmisdade en toe uit aanhouding ontsnap het, is weer agter tralies. Hy word verbind met ʼn reeks huisrooftogte, diefstal uit motors, ontvoerings, poging tot verkragting en verkragting.

Dié gesoekte verdagte is Sondag tydens ʼn taktiese operasie in ʼn nedersetting buite Thohoyandou in Limpopo in hegtenis geneem. Dit volg nadat lede van die gemeenskap die polisie in kennis gestel het dat die verdagte ʼn ongelisensieerde vuurwapen in sy besit het.

“Toe lede van die polisie se taktiese reaksiespan, speurders van Thohoyandou en lede van die polisie se eenheid vir openbare orde hom konfronteer, het hy geweier om bes te gee en glo op die polisie begin skiet,” sê Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder van Limpopo. Polisielede het teruggeskiet en die verdagte in die proses gewond. Hy is beseer en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling.

“ʼn Polisieondersoek het bevestig dat die verdagte ontsnap het uit aanhouding in die Arconhoek-polisiestasie in Mpumalanga in 2016,” sê Mojapelo. Die verdagte sal binnekort in die plaaslike landdroshof verskyn. Die polisieondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Watter polisieman het die sel ongesluit gelaat, en vir hoeveel?

Burgermeester ·

Die persoon met gevonnis word bloot op die feit dat daai vuurwapen só geroes is. Dit is duidelik daar is geen onderhou op daai wapen gedoen nie. Wys ‘n mens dat kriminele geen trots het nie, en alles deur hulle agterstewe trek want hulle werk nie daarvoor nie.

Jack Russel ·

Dis onrusbarend hoeveel “ontsnappings” daar deesdae tydens polisie aanhouding is, die einste polisie wat so streng gekeur word deur opperbevelvoerder Cele….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.