Beweerde seksuele teistering by SAUK ondersoek

Nomsa Philiso, waarnemende uitvoerende hoof van die SAUK. Foto: ANA

Die SAUK het twee hoëvlak-kommissies van ondersoek op die been gebring om bewerings van seksuele teistering en redaksionele inmenging by die openbare uitsaaier te ondersoek.

Nomsa Philiso, waarnemende uitvoerende hoof van die SAUK, het Donderdag aangekondig dié ondersoek word gedoen in ʼn poging om dinge by die openbare uitsaaier reg te ruk. Dit volg na aanleiding van die parlement se komitee oor kommunikasie se aanbevelings rakende inmenging in die nuuskantoor en ander bewerings van oortredings.

“Dit is ook deel van voortgesette werk om die nasionale uitsaaier te transformeer na ʼn verantwoordelike en aanspreeklike korporatiewe entiteit. Rakende die bewerings van poste vir seks, kan ons personeel verseker dat vertroulikheid gewaarborg is. Die ondersoek sal wyd strek tot by eksterne mense soos diensverskaffers en vryskutmense, wat gevra word om na vore te kom indien daar op hulle druk geplaas is om gunste te doen in ruil vir werk,” het Philiso gesê.

“Ons sal ook na die nuusdagboeke van 2012 tot 2018 kyk, maar mense toelaat om terug te gaan na vóór 2012 indien hulle inligting het wat met die ondersoekkomitee gedeel moet word. Die ondersoek sal nie net gedoen word rakende politieke inmenging in die nuuskantoor nie, maar ook fokus op sake-invloed en nieregeringsorganisasies … ons moet in aanloop tot die verkiesing geensins onder verdenking wees nie.”

Philiso het gesê die ondersoek na seksuele teistering sal vandag begin en tot einde Julie strek. ʼn E-posadres is geskep spesifiek sodat klaers inligting daarheen kan stuur. Daar sal ook houers by die SAUK se streekskantore beskikbaar wees waar slagoffers geskrewe klagtes kan ingooi. Elke klaer sal die geleentheid gegun word om sy of haar saak voor die komitee te stel, het Philiso gesê.

ʼn Regter sal die voorsitter van die ondersoekkomitee na seksuele teistering wees, terwyl Joe Thloloe, uitvoerende direkteur van die Persraad, die voorsitter van die ondersoek na redaksionele inmenging sal wees.

“Ons hoop dat ons sal kan sê ons het onsself gereinig van die eerste vlak [beskuldigings] teen die einde van hierdie ondersoek. Dit gaan daaroor om die aard van ons waardestelsel te herstel,” het Philiso gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie ·

“Reg te ruk” sê hulle? Bhah ha ha ha hahaha…say no more!

snoefie ·

“ondersoek-komitee” is op die been gebring sodat kader- bevoordeling wettig kan geskiet. bolle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.