Beweerde sluipmoordenaars beken skuld vir Amcu-moordkomplot

Amcu-lede betoog buite die Brits-landdroshof. Foto: ANA.

Die Brits-landdroshof het Woensdag gehoor hoe twee beweerde sluipmoordenaars wat betrokke was in die moordkomplot op Malibongwe Mdazo, die takvoorsitter van die  Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) by Easter Platinum, skuld beken.

Ao. Johannes Montsho het vir die hof gesê die twee het gebieg en in detail verduidelik hoe hulle betrokke was in ʼn komplot om Amcu-leiers in Marikana naby Rustenburg in Noordwes te vermoor.

Montsho het vir die staat getuig in ʼn aansoek om borgtog vir die agt mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn plan beraam het om Amcu-leiers te vermoor en die vakbond by die Lonmin-myne in Marikana te verwyder.

Die staat voer aan dat die beskuldigdes uit Amcu geskors is as leiers en dat die vakbond nuwe leiers aangestel het en hulle daarom ontevrede was, en ʼn plan gemaak het “om hulle uit die kantoor te verwyder”.

Staatsaanklaer Cassius Mona het gevra of die belydenis die beskuldigdes voor die hof impliseer.

“Die fyn betrokkenheid van almal,” het Montsho instemmend geantwoord.

Die hof het gehoor dat drie sluipmoordernaars van die Oos-Kaap gehuur is en glo R50 000 betaal sou word vir elke moord.

Hy het gesê ontevrede Amcu-lede het verskeie vergaderings gehou waar daar ooreengekom is om sluipmoordenaars te huur om vyf vakbondleiers te vermoor om die vakbond swak te maak.

“Hulle het gesê as leiers soos Malibongwe Mdazo, Pule, Kwenene en Cindy doodgemaak word, sal hul volgelinge terugval omdat hulle lafaarde is, en dit dan tot gevolg sal hê dat Amcu by Lonmin verwyder sal word.”

Maroela Media het vroeër berig die staat voer aan dat Silwane, Samkelo Mkhutshwa en Nkosinathi Mantashe vir Malibongwe Mdazo op 22 Julie in Mooinooi naby Brits geskiet het in ʼn poging om hom te vermoor. Mdazo is verskeie kere op ʼn sportgrond in Mooinooi geskiet.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.