Bewegende blokkietoring laat Lego lewe

Die hele kontrepsie, asook die sogenaamde tallboy, in werking. (Foto: Verskaf)

ʼn Hemelhoë toring wat uit Lego gebou word, bereik byna weekliks nuwe hoogtes terwyl entoesiaste van die gewilde blokkies skarrel om dit eindelik die hoogste Lego-toestel in die wêreld te maak.

Willi Badenhorst, leier van die span van tien mense wat hieraan help bou, werk sedert Februarie daaraan om die toestel te vervolmaak.

Die kontrepsie, wat net uit Lego gebou word, vervoer plastiekballe al in die rondte met die hulp van meganismes en vervoerbande. In Lego-kringe staan dit bekend as ʼn “great ball contraption (GBC)” en slegs ʼn paar duisend mense wêreldwyd neem hierdie stokperdjie só ernstig op.

Die toring, of sogenaamde tallboy, is tans 5,67 m hoog, maar sal in die komende weke tot ʼn hoogte van 7,1 m opgebou word. Die baan wat aan die voet van die toring geplaas word, sal 20 m ver strek.

Badenhorst vertel dat hulle vroeër vanjaar aan die GBC begin bou het met die hoop dat hulle eindelik die hoogste toring van sy soort ter wêreld sou hê.

Hulle het egter reeds in Augustus ʼn rekord losgeslaan nadat die hegte groep wat wêreldwyd aan hierdie soort toestelle bou, eenparig besluit het dat Badenhorst en sy span tans die hoogste GBC het.

Badenhorst is egter oortuig daarvan dat hul toestel selfs verdere hoogtes kan bereik.

“Ons doel is nie net om te sien hoe hoog ons dit kan bou nie, maar ook hoe ons op die meganiese aspekte daarvan kan verbeter. Lego’s is eintlik nie ontwerp om vir ure aaneen te beweeg nie, maar dit is wat die modules van hierdie toestel doen,” sê hy.

“Ons maak deurlopend gebruik van egte plastiek Lego-deeltjies; die toleransie op die ratte is dus nie wat dit sou wees as dit van ʼn ander materiaal gemaak was nie. Dit is tog interessant dat die dele eindelik begin verslyt, dat dit breek en die plastiek naderhand in ʼn fyn stof gemaal word wat die wêreld vol lê.

“Ek sê altyd daar is niks opwindends aan Lego’s as dit nie beweeg nie.”

‘n Deel van die hele kontrepsie. (Foto: Verskaf)

Terwyl die GBC aan die gang is, moet daar voortdurend daaraan gebou en verbeter word terwyl onderdele onklaar raak.

“Die GBC is soos ʼn lewende organisme, dit lyk nooit twee keer dieselfde nie. ʼn Mens moet die heeltyd seker maak die spoed is reg en dat daar nie êrens ʼn bottelnek is nie,” sê Quinton Venter, ʼn ondersteuner van die span wat ook modules vir die toring gebou het.

Die jongste weergawe van die toring bestaan uit sowat ses modules wat afsonderlik gebou en later aanmekaar gesit word. Die grootste module bevat tussen 3 000 en 4 000 Lego-stukkies, maar in die geheel sal daar meer as 12 000 Lego-stukke gebruik word om die hele toring te voltooi.

Dit sluit nie die talle Lego’s in wat gebruik word om die ellelange baan aan die voet van die toring te voltooi nie.

Al die dele word boonop uit die span, wat bedags voltyds werk, se eie sakke betaal.

Volgens Venter kan gewone Lego tot 30 sent per blokkie kos, terwyl groter of meer tegniese onderdele tussen R2 en R3 kan beloop.

Desnieteenstaande beplan die span steeds om hierdie naweek ʼn kleiner weergawe van die GBC by Comic Con Africa by die Nasrec-sentrum in Johannesbrug te vertoon. Hulle beoog ook om die sewe meter lange toring op 29 en 30 Oktober by die jaarlikse Lego-uitstalling, Brickfair, in die Menlyn-winkelsentrum in Pretoria te vertoon.

By albei geleenthede sal dit die span sowat vier ure neem om die hele GBC aanmekaar te sit.

‘Meer as net Lego’

Badenhorst sê sy geesdrif vir Lego kom al jare lank en hy, tesame met sy span in samewerking met Brickfair, wil vir mense wys wat jy alles met Lego kan vermag.

“Die uitstalling is ʼn kans vir mense om net so opgewonde te raak oor Lego’s as wat ons is,” sê hy.

Venter meen weer dat mense onder die indruk is dat Lego slegs kinderspeelgoed is, maar hulle wil vir Suid-Afrikaners wys dit is pasgemaak vir enigiemand van enige ouderdom wat ʼn passie het om te skep.

“GBC’s het ʼn tegniese en ʼn meganiese agtergrond. My grootste hoop is dat ons GBC iemand se lus vir ingenieurswese aanwakker en dit vir hulle wys hoe lekker dit wat ons doen is,” sê hy.

Brickfair is jare gelede van stapel gestuur om Lego-entoesiaste van oor Suid-Afrika bymekaar te bring om hul liefde vir die gekleurde blokkies te deel.

Toegang tot die uitstalling is gratis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.