Beweging verskerp veldtog teen regstellende aksie

Toekomsberaad-Dirk-Hermann-02

Dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema.

“Ons mag nie toelaat dat ons en ons kinders se toekoms op grond van ras bepaal word nie.” Dít is die standpunt van dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wat as een van die sprekers by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad in Pretoria opgetree het.

Solidariteit het tydens die beraad aangekondig dat hy, as deel van die Solidariteit Beweging se 2020 Helpmekaarplan, sy veldtog teen die regering se toepassing van regstellende aksie gaan verskerp. Dit sluit onder meer verskeie strategiese hofsake in, en behels ook die voortsetting van die vakbond se klagte teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies.

Hermann het tydens die beraad daarop gewys dat regstellende aksie in Suid-Afrika lankal nie meer met regstelling te doen het nie, maar eerder met ras. Hy meen die benadeling van regstellende aksie is nie net beperk tot die negatiewe impak wat dit op werk- en loopbaangeleenthede van minderhede het nie.

“Regstellende aksie het ook ʼn regstreekse impak op die doeltreffende werking van dorpe, stede en maatskappye, asook op effektiewe dienslewering. Die paradoks hiervan is dat diegene wat die bevoordeeldes van regstellende aksie moet wees,  die benadeeldes word,” sê Hermann.

Solidariteit het reeds ʼn omvattende veldtog teen die regering se toepassing van regstellende aksie van stapel gestuur. Een van die hoogtepunte is Solidariteit se klagte teen die regering by die Verenigde Nasies (VN) weens die regering se verontagsaming van die VN se konvensie vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie. Solidariteit sal in April of Augustus 2016 ʼn aanbieding voor ʼn komitee bestaande uit verteenwoordigers van 18 lande rakende die vakbond se klagte teen die regering doen.

In November vanjaar pak Solidariteit boonop die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) namens tien lede in die konstitusionele hof. Die vakbond betwis ʼn deel van ʼn vroeëre uitspraak deur die arbeidsappèlhof in dié prominente hofsaak oor die DKD se toepassing van die nasionale rassedemografie.

In ʼn ander geskiedkundige regstellendeaksie-hofsaak sal Eskom volgende jaar voor Solidariteit in die hof oor sy rasseplan te staan kom. Solidariteit argumenteer dat die numeriese teikens wat in Eskom se regstellendeaksie-plan vervat word, slegs op die nasionale rassedemografie geskoei is en dat dit dus glad nie die rasseverspreiding van potensieel toepaslike kwalifikasies in ag neem nie.

“Terwyl ons almal met beurtkrag sukkel, het Eskom ʼn rasseplan aanvaar wat net ras in ag neem. Die kernprobleem is dat die vaardigheidsaanbod nie belyn is met Eskom se plan nie. Die gevolg is diensprobleme wat ons in die donker laat,” sê Hermann.

Hermann voeg by dat die vakbond oor die volgende vyf jaar, as deel van die Beweging se 2020 Helpmekaarplan, verskeie ander strategiese sake gaan aanpak. Dit sluit sake rakende swart ekonomiese bemagtiging in. “Daar is reeds 14 verdere strategiese litigasiesake geïdentifiseer,” sê Hermann.

Daarbenewens is Solidariteit reeds met 33 ander regstellendeaksie-hofsake besig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Allan ·

My besigheid prodeseer veiligheids videos (onder andere)
Ek het verlede maand, ter antwoord op ‘n navraag deur Eskom uitgestuur,
Laat weet dat ek nie ‘n kwotasie gaan indien nie want ek tender nie waar die uitlsag op ras baseer is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.