Beweging vier 120 bestaansjaar met dankbaarheid, genade

Flip Buys ontvang ‘n Nederlandse Statebybel wat deur die Solidariteit Trust bewaar sal word. (Foto verskaf)

“Ons erken vandag die genade wat ons oor geslagte heen ontvang het. Hierdie geleentheid kan slegs met die woorde ‘nederige dankbaarheid’ en ‘genade’ opgesom word, want dít is wat ons oor 120 jaar van God ontvang het.”

Só het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, die feesnaweek afgesluit, wat die ontstaan van die vakbond, wat vandag die Solidariteit Beweging is, gedenk het.

Flip Buys, voorsitter van die Beweging, het in een van sy eerste toesprake in 1998 gesê dié vakbond sal ʼn arbeidsbeweging moet word. In 2022 bestaan die Beweging uit ʼn netwerk van 46 selfstandige organisasies wat hulle beywer vir die vry, veilige en voorspoedige voortbestaan van 570 000 lede met ʼn bedryfsbegroting van meer as R1 miljard.

Honderde mense het die Voortrekkermonument se Heldesaal op Sondag volgepak vir die dankdiens wat deel van die 120-jarige feesviering gevorm het.

Elke hoof van die instellings van die Solidariteit Beweging het tydens die diens ʼn Bybel ontvang met ʼn spesiale teksvers wat aan die instellings opgedra is. Kinders wat aan die begin van hulle skoolloopbane staan, het telkens die Bybels aan die hoofde oorhandig.

“Hiermee wil ons erkenning gee aan die Here se genade wat die regte mense op die regte plek geplaas het, terwyl die instellingshoofde met die oorhandiging erken hulle sal werk doen wat nou van hulle verwag word. Die kinders sal later weer die werk oorneem as dit hulle tyd is,” het Hermann die simboliek agter die oorhandiging verduidelik.

Honderde mense het die Solidariteit Beweging se dankdiens bygewoon. (Foto verskaf)

Hy meen die jeug is die skarnier wat ons met die toekoms verbind.

Buys het ook ʼn Nederlandse Statebybel ontvang met boekmerke van elkeen van die instellings se teksverse.

“Met dié Bybel erken ons ons Westerse wortels en die Bybel sal deur die Solidariteit Trust vir ons bewaar word,” het Hermann bygevoeg.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het die diens gelei.

“Ons gee vandag erkenning vir waar ons hulp vandaan kom en met die dankdiens hoor ons ook terselfdertyd God se roepstem vir die toekoms, want dankbaarheid moet ook tot dade lei.”

Noëth het met sy boodskap uit 2 Konings 6:1-7 benadruk dat God ʼn wonderlike God is wat wonders doen met gewone mense op ʼn onverklaarbare wyse in gewone omstandighede.

Xander Roets oorhandig bybel aan Henk Schalekamp van Kanton. (Foto: Maroela Media)

“As jy nie glo dat ʼn byl op water dryf nie, hoe gaan jy glo die dood is aan die kruis oorwin? Vandag moet ons onsself afvra of ons oë en ore nog oop vir wonderdade is. Glo jy dat ons hierwees ʼn wonderwerk is? Glo jy, al weet jy nie wat die uitkoms van jou bouwerk gaan wees nie?”

Buys het die geleentheid afgesluit deur te beklemtoon dat die Here sal bly voorsien soos wat Hy reeds in Abraham se tyd gedoen het.

“Hy is die Verbondsgod. Hy is betroubaar en het sy beloftes oor die afgelope 120 jaar gehou.

“Kom ons inspireer mekaar om in die geloof verbind te bly om ons erfenis vorentoe te bewaar en vir ons kinders te gee sodat hulle ook kan deel in God se mooi erfenis.”

ʼn Besonderse tafel waaraan talle studente van Sol-Tech gewerk het, is ook ná afloop van die diens aan Buys oorhandig.

Sol-Tech se studenteraad oorhandig ‘n tafel aan Flip Buys. (Foto verskaf)

Teksverse vir elke instelling:

Solidariteit (1902)

Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat die mens vreugde vind in sy werk; dit is wat hom toekom. – Prediker 3:22

Die FAK (1929)

Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi. – Psalm 16:6

Solidariteit Helpende Hand (1949)

Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander sʼn. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. – Filippense 2:4-5

AfriForum (2006)

Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. – Galasiërs 6:9

Sol-Tech (2007)

Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe: hou die werk van ons hande in stand, ja, die werk van ons hande, hou dit in stand. – Psalm 90:17

Solidariteit Beweging (2010)

Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige. – Haggai 2:4

Maroela Media (2011)

Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ʼn dienskneg van Christus wees nie.  – Galasiërs 1:10

Akademia (2012)

Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand. – Spreuke 9:10

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (2018)

As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. – Romeine 12:7

Kanton (2019)

As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm tevergeefs. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ʼn bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap. – Psalm 127:1-2

Saai (2019)

En wat in die goeie grond val – dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ʼn edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra. – Lukas 8:15

Orania Ontwikkelingsmaatskappy (2020)

En hulle sê: Ons sal ons klaarmaak en bou! En hulle het hulle hande sterk gemaak vir die goeie werk. – Nehemia 2:18b

Akadmia se koor tydens die dankdiens by die Voortrekkermonument. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nico ·

Net een vraag, lewe ons volgens die opdragte van God, hoeveel van hierdie teks verse word bedoel. Jacobus Johannes Uys het so’n Bybel van die dorp Grahamstad ontvang met sy uittog uit die Kaap om weg te breek van die Britse oorheersing. Wat is die betekenis van hierdie Bybel wat oorhandig was, die huis van die Here is nie met stene en klp gebou nie so ook die Voortrekker monument, die kindres vaan God vorm die kerk.

piket ·

As jy volgens die opdragte van GOD wil leef, moet jy Sy Woord in die Bybel volg.
Dit is die betekenis.

Jaco ·

Dié 570 000 lede van Solidariteit dink 99% dieselfde as die Vryheidsfront Plus oor die politiek. Tog sukkel die VF-Plus maar om stemme te kry. 425000 in 1994 het op ‘n stadium na 130000 verminder, maar darem in 2019 na 415000 vermeerder. So nou wonder ek maar net : waars die res van “ons eie mense” wamneer dit kom by verkiesings? Almal by die DA? Ek twyfel of ons mense sal stem vir ‘n party wat pro-regstellende aksie is. So al logiese afleiding is dat BAIE van “ons eie mense” nie aan verkiesings deelneem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.