Bewerings dat Onteieningswet gepubliseer is, is fopnuus

land-lugfoto-grond-landbou

Foto: Magda Ehlers/Pexels.com

Die bewerings op sosiale media dat die regering op agterbakse wyse die Wysigingswetsontwerp op Onteiening in die Staatskoerant gepubliseer het sonder om enigeen in kennis te stel, is fopnuus.

Maroela Media het navraag gedoen by die owerhede nadat ’n Facebook-boodskap in hierdie verband die ronde begin doen het en dit tot groeiende weersin en paniek in sommige kringe aanleiding gegee het.

Die paniekerige Facebook-inskrywing vra dat mense die onwaar boodskap “wyd en syd” moet stuur, “aan almal wat jy ken”, en dit word dan ook tans ywerig deur vele mense gedoen, al is die inligting vals.

Die ware feite, soos deur Maroela Media nagegaan by die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming sowel as lede van twee parlementêre komitees (landbou en die ad hoc-komitee om die Grondwet se artikel 25 oor onteiening sonder vergoeding te wysig) is dat niks van die aard in die Staatskoerant gepubliseer is nie.

Daar moet onderskei word tussen die voorgestelde grondwetlike wysiging aan die een kant, en die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Onteiening aan die ander kant.

Soos wat Maroela Media verlede week en voorverlede week in besonderhede berig het, is die mandaat van die ad hoc-komitee oor artikel 25 van die Grondwet deur die Nasionale Vergadering verleng tot 31 Maart, onder meer weens ontevredenheid met die gedrag van die komitee se voorsitter, dr. Mathole Motshekga van die ANC.

In praktyk beteken dit niks gaan uit daardie komitee voortkom in die volgende maand en ’n half nie.

Tweedens is daar die Wysigingswetsontwerp op Onteiening. Die inhoud hiervan is hoegenaamd geen geheim nie – Maroela Media het uiters omvattend hieroor berig.

Die regering het lankal aangekondig dat daardie wysigingswetsontwerp Donderdag in die Staatskoerant gepubliseer sal word. Dit sal nie agteraf gedoen word nie – die parlement sal die gewone openbare kennisgewing uitreik, wat soos gewoonlik deur die media en politieke partye uitgedra sal word ter kennisname van die algemene publiek, wat op die gewone manier hul skriftelike kommentaar sal kan instuur.

Die gewone tydperk van twee maande vir openbare kommentaar sal geld en die sluitingsdatum daarvoor – so is al tevore aangekondig – sal 10 Februarie wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Phillip ·

Dankie MM sien dis hoekom ek gereeld met my Pa oor julle praat hy het sy media wat hy gebriuk en ek julle en julle is meer glo waardig wat julle is seeker oor julle Feite dankie Maroelamedia(:-))

Dup ·

Al is dit nou fopnuus,gaan dit een van die dae feitlike nuus wees….

Werner ·

Wel die onteieningswet gaan deurkom voor n jaar verby is .So fopnuus of te nie ons het moeilikheid

Rooikoos ·

“Daar moet onderskei word tussen die voorgestelde grondwetlike wysiging aan die een kant, en die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Onteiening aan die ander kant”
Nou wat is die verskil?

Andréas ·

Wil hul nie asb hierdie mense/ organisasies wat fopnuus skep en versprei naspoor en vervolg nie? Ja, mense “deel” graag dié sensasie maar dit kan veroorsaak dat “werklike waarhede” later geïgnoreer word.

Samuel ·

Ek wonder of die skeppers van hierdie fopnuus nou gelukkig voel? Domastrant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.