Bewerings oor plaaswerkers teen Trollip teruggetrek

Athol Trollip, die burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro. Foto: Facebook

Lawrence Troon, voormalige ANC-raadslid in Nelson Mandelabaai, het Vrydag burgemeester Athol Trollip onvoorwaardelik om verskoning gevra en bewerings dat Trollip rassisties was en sy voormalige plaaswerkers in die Oos-Kaap mishandel het, teruggetrek.

Die saak het Vrydag in die hooggeregshof in Grahamstad gedraai waar Trollip ʼn siviele saak teen Troon gebring het om hom vir naamskending te dagvaar.

Trollip het Troon vir R5 miljoen gedagvaar nadat Troon en voormalige DA-raadslid, Knight Mali, verklarings van verskeie mans en vroue te voorskyn gebring het wat beweer het hulle het op Trollip se destydse plaas in Mount Prospect buite Bedford in die Oos-Kaap gewerk. Die groep werkers het beweer hul menswaardigheid is aangetas terwyl hulle op die plaas gewerk het.

Die bewerings het vir die eerste keer in 2015 aan die lig gekom, meer as ʼn dekade nadat Trollip die plaas verkoop het. Trollip het die bewerings ten sterkste ontken en gesê dit is “opgemaak, sonder enige gronde en polities gemotiveerd”.

In die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesings in 2016 het die bewerings kort-kort weer opgeduik met die ANC wat destyds ʼn mediakonferensie gehou het saam met die plaaswerkers om “hul kant van die saak te vertel”.

Verskeie van die voormalige plaaswerkers het die mediakonferensie bygewoon en beweer hulle is mishandel deur vier geslagte van Trollip-mans. Hulle het beweer hulle is minder as R100 per maand betaal en was gedwing om in onmenslike omstandighede te leef, sonder enige toegang tot water, elektrisiteit, toilette of beddens.

Destyds het een van die vroue in trane uitgebars en Zizi Kodwa, die destyds ANC nasionale woordvoerder, moes haar troos.

Trollip het die bewerings afgemaak as ʼn “skelm swartsmeerveldtog” deur die ANC en het gesê van hierdie “werkers” het nooit eers op die familie se plaas gewerk nie.

Kort ná die ANC se konferensie het die DA sy eie mediakonferensie gehou waar dit dié keer Trollip was wat in trane was en gesê het die bewerings is nie waar nie.

Die hooggeregshof in Grahamstad het Vrydag beveel dat Troon Trollip onvoorwaardelik om verskoning moet vra.

“Ek trek die bewerings onvoorwaardelik terug dat Athol Trollip hom skuldig gemaak het aan erge menseregte-oortredings, rassisme, wreedheid, uitbuiting, geweld, grondonteiening en verwaarlosing wat aan die lig gekom het nadat ek agt verklarings te voorskyn gebring het wat deur voormalige werkers van mnr. Trollip voorsien is,” het Troon in sy verskoning gesê.

Trollip het in ʼn verklaring gesê hy is reg bewys deur die verskoning en terugtrekking van die bewerings deur Troon.

“Hierdie onderduimse inisiatief was duidelik georkestreer om soveel as moontlik skade aan my beeld en politieke posisie, asook die DA se verkiesingsveldtog, te doen in aanloop tot die plaaslike verkiesings in 2016. Die hofbevel dat daar verskoning gevra moet word, is ʼn belangrike presedent waarvan alle politici moet kennis neem sodat hulle kan sien hulle kan nie toegelaat word om te doen en sê wat hulle wil nie.”

Trollip het gesê hy wou slegs gehad het die skade aan sy beeld moet herstel word en stel geensins belang om enige geld uit Troon te kry nie.

“Die erns van die bewerings en ongegronde laster het wel daartoe aanleiding gegee dat ek hom vir R5 miljoen gedagvaar het. Dit dui daarop dat die openbare skade wat hy veroorsaak het deur hierdie ongegronde bewerings van so ʼn aard en ernstig genoeg was dat ek hom vir ʼn groot bedrag geld gedagvaar het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

John Samuel ·

En wat word nou van die finansiële deel van die saak nadat die sak troon-kos verkeerd bewys is?
Jare se stres en emotionele ontstig deur n polities gedrewe leunaar…? Moet ‘jammer’ nou deug…..?

CJ ·

Bietjie lig van die saak afgekom, Mnr Troon. Myns insiens moes jy erger gestraf geword het.

Awie Opperman ·

Ek is nie ‘n DA ondersteuner nie en my kritiek is op die media in geheel gemik. Die aanklagte beland op die voorblad van omtrent elke koerant, maar die verskoning, regstelling en/of gevolgtrekking is ‘n voetnota op bladsy 7. Ek is 100% vir vrye en onafhanklike media, maar daar is groot fout in ons wêreld wanneer sulke dinge gebeur. Ek sou persoonlik voortgegaan het met die lastersaak en enige verkrygde fondse geskenk het aan ‘n welsynsorganisasie. As daar nie ernstige nagevolge vir sulke dade is nie, sal dit nie toekomstige wanvoorstellings voorkom nie.

Naas Vermaak ·

Ek stem saam Awie….om om verskoning te vra behoort groot nuus te wees, voorbladnuus!! Want mense vra nie meer om verskoning nie, sê nie meer jammer nie…op alle vlakke. …en ‘n verskoning is seker een van die mees wonderlikste dinge om gebeure en wonde ‘n positiewe koers te laat inslaan op die pad na heling.

Adam ·

Awie en Naas, julle kommentaar is 100% korrek en geldig en dit is tragies dat die “verskonings” nie ook aan die groot klok gehang word nie. Ongelukkig help dit weinig om met sulke sake voort te gaan, aangesien die raasbek gewoonlik nie genoeg geld of bates het waarteen jy ‘n bevel in jou guns kan uitvoer nie. Dit gebeur telkens dat mense wat weinig besit, gebruik word om die swartsmeerdery te dryf.

Shame ·

Ai, Mnr Trollip, en weer laat jy hulle wegkom met ‘n I am sorry! Almal dink mos dat hulle kan moord pleeg en net sorry sê. En jy laat dit toe en laat jou skop. Meer van jou verwag. Hoeveel regskoste het hierdie sorry jou gekos
Jy kon die geld aanvaar het en dit aan ‘n liefdadigheid geskenk het.

Oom Kalahari ·

Mnr Trollip, jy was baie te nagekom in die hele aanloop van aangeleentheid, maar tog steek jy met positiwiteit jou hand uit tot regverdigheid en heling.
Jy is ‘n wonderlike mens in hierdie opsig en draai die ander wang terwyl jy so deurgeloop het deur ANC. Weereens ‘n bewys dat geregtigheid maar altyd sal seevier.
Ek hoop ten minste die ander party sal alle regs kostes aan hierdie saak/verband persoonlik dra. Sterkte vorentoe.
NS: Nee ek is nie ‘n DA lid nie en huil maar op VF+ se skouers.

John ·

Die tro-lle is nogal, besig in daai wereld. As ek Tro-llip is sal ek ligloop vir al die tro-e in die omgewing en eers uitvind uit wie se tro-g vreet hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.