Bewerings van Klebsiella-uitbreking in Durban-hospitaal

Argieffoto Foto: HeikeIr, Pixabay

Argieffoto Foto: HeikeIr, Pixabay

Die departement van gesondheid in KwaZulu-Natal het Sondag bewerings dat ʼn multi-middelweerstandige “superkiem” Klebsiella by ʼn hospitaal in Durban uitgebreek het, verwerp.

Dr. Imran Keeka, provinsiale DA-LP, het Sondag gesê die Demokratiese Alliansie het van ʼn betroubare bron verneem dat Klebsiella by die neonatale hoësorgeenheid van die Mahatma Gandhi-gedenkhospitaal uitgebreek het, en meer as 10 babas in minder as twee weke besmet is. Volgens Keeka is dit nog nie duidelik of daar enige sterftes by dié hospitaal was nie.

“Die bakterie kan binne ʼn waakeenheid tot lewensgevaarlike of noodlottige septisemie, longontsteking, urienwegontsteking, vel- en ander infeksies lei. Dit het daartoe gelei dat die eenheid afgekamp moes word en babas, wat dringende mediese sorg benodig, moes na ander fasiliteite in die provinsie oorgeplaas word,” het hy bygevoeg.

Keeka het gesê só ernstige bakteriële uitbreking sou nooit gebeur het in ʼn hospitaal waar infeksiekontrole in ʼn ernstige lig beskou word nie. “Dit is ook kommerwekkend dat, net soos met ʼn onlangse Acinetobacter-uitbreking by die Inkosi Albert Luthuli-hospitaal, die departement van gesondheid nie die publiek in kennis gestel het van die omstandighede by Mahatma Gandhi nie.”

Sam Mkhwanazi, woordvoerder van die departement van gesondheid, het egter gesê dié bewerings “saai paniek”. “Die departement neem met kommer kennis van ʼn verklaring wat paniek saai dat daar ʼn uitbreking van carbapenem-weerstandige klebsiella-pneumonie (CRKP) by die hospitaal uitgebreek het,” het hy gesê. Volgens hom toon waarnemings die afgelope paar jaar dat CRKP teenwoordig is in talle fasiliteite wêreldwyd, insluitend Suid-Afrika. “Die organisme is geïsoleer van pasiënte in privaat- en staatshospitale en kan ook in gemeenskappe voorkom.”

Mkhwanazi het gesê sedert die begin van April tot die 24ste, is CRKP geïsoleer van nege babas by die hospitaal, wat almal in die neonatale-waakeenheid was vir toestande wat dringende ingryping en intensiewe monitering vereis het. “Van die nege babas, van wie die organisme gekweek is, is een dood weens ander toestande wat nie met CRKP verband hou nie. Dié baba was ernstig siek tydens opname in die eenheid en die onderliggende toestand was van só aard wat ʼn oorplasing na ʼn tersiêre sentrum geëis het, en die baba gesterf het.”

Hy het bygevoeg daar was sedert 24 April nog nie enige nuwe gevalle van CRKP nie. “Dit gaan goed met alle ander babas.”

Volgens Mkhwanazi het die departement verlede jaar ʼn ondersoek van stapel gestuur as ʼn maatreël om uitbrekings by hospitale te voldoen. Dié ondersoek het aan die lig gebring dat sommige babas in hospitale in KwaZulu-Natal CRKP opgedoen het tydens of net ná geboorte. “Die waarskynlikste oordrag is van ma na baba tydens geboorte,” het hy verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.