Bewusmaking van velkanker met gratis ondersoek

Argieffoto. (Foto: Chermiti Mohamed)

Die Triomf-kliniek in die weste van Pretoria, wat vandeesmaand hulle agtste bestaansjaar vier, bied Donderdag hul dienste gratis aan vir velondersoeke as deel van Velkankerbewustheidsdag wat jaarliks op 1 September is.

Die kliniek bestaan uit ʼn netwerk van dermatoloë, algemene praktisyns, plastiese chirurge, interniste, oor- neus- en keelspesialiste, ortopediese chirurge, oogkundiges en tandheelkundiges.

Dié netwerk behandel pasiënte pro bono en het die afgelope agt jaar ʼn reuseverskil in meer as 5 000 behoeftige Afrikaanse mense se lewens gemaak.

Ondersoeke word by die kliniek in Pretoria-Wes gedoen en pasiënte word daar gehelp indien moontlik, of word verwys vir verdere behandeling.

Volgens dr. Ugeshnie Naidoo, ʼn dermatoloog by die Triomf-kliniek, is velkanker een van die algemeenste kankers waarmee mense gediagnoseer word.

Velkanker word gekenmerk deur die abnormale groei van velselle en word in drie kategorieë geklassifiseer, naamlik basale velkanker, melanoomkanker en skubselkarsinoom.

“Dermatoloë beskik oor spesiale toerusting wat die vel skandeer. Indien die dermatoloog onraad vermoed, sal ʼn biopsie gedoen word wat in ʼn laboratorium getoets word.”

Velkanker is ook die algemeenste kanker waarmee Suid-Afrikaners gediagnoseer word. “Suid-Afrikaners word ongelooflik baie aan die son blootgestel. Velkanker het nie enige simptome soos koors, pyn of jeukerigheid nie. Dit word eerder gekenmerk aan velselle wat verander, soos byvoorbeeld die kleur of vorm van ʼn moesie of litteken.”

Daarom is dit belangrik om bewus te wees van jou hele vel, sê Naidoo. “Moenie net bewus wees van die dele van die vel wat aan die son blootgestel word nie.”

Sy voeg by dat velkanker ʼn genetiese siekte is. “As jy ʼn familiegeskiedenis van velkanker het, is jy vatbaar daarvoor. Daarom moet ons ons gedragpatrone verander deur direkte blootstelling aan die son te beperk – ʼn hoed en sonskerm is jou beste verdediging teen die son.”

Velkanker word behandel deur die gedeelte op die vel te vries of deur immuunterapierome, wat die immuunstelsel versterk teen velkanker. Behandeling vind oor ʼn tydperk van vier tot ses weke plaas, waarna die pasiënt na ʼn tydperk van drie maande weer ondersoek word.

“Velkanker kan ook uitgesny word deur ʼn plastiese chirurg. In uiterste gevalle sal ʼn onkoloog verdere ondersoek instel en bloedtoetse laat doen.”

Naidoo benadruk dat dit uiters belangrik is om velkanker vroegtydig te diagnoseer. “Sodra die kanker na die limfkliere versprei het, is dit aansienlik ingewikkelder om te behandel.”

Die Triomf-kliniek sal Donderdag gratis velondersoeke tussen 07:30 en 16:00 doen. Afsprake is noodsaaklik en diegene wat eerste skakel, sal eerste ondersoek word. Slegs 15 pasiënte kan by dié kliniek ondersoek word. Sonskerm sal ook aan pasiënte verskaf word.

Die kliniek se fisieke adres is Vom Hagenstraat 464, Pretoria-Wes. Afsprake kan by Deané by 012 327 7818 gemaak word.

Die Velkankerstigting het ook ʼn netwerk van dermatoloë landswyd wat Donderdag gratis velondersoeke aanbied. Vir die lys van dokters wat dié diens aanbied, besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Prikkie ·

My ma is aan velkanker oorlede (plaveisel karsinoom).

Dit het met ‘n baie klein plekkie op haar onderlip begin. Moenie wag nie, doen iets daaraan.

Soos ‘n sekere advertensie sê “NOU”, want NOU NOU is te LAAT.

Piet Snot ·

Let ook op jou oorskulp. Ons smeer nooit room daaraan nie, want ons vergeet daarvan.
Dit kry ook son al het jy ʼn pet op.

Duck ·

Pretoria is bietjie ver van die Kaap af, ek het ook al velkanker laat uitsny en uitbrand.

PoppieK ·

daar moet meer sulke gevalle wees van Dr’s wat hul dienste gratis aanbied. Dankie aan al die Dr’s op die webwerf gelys – God seen julle

Veronika ·

En wat vd Noord-Kaap??? Ons Upington, Kimberley , en omgewing het die ergste son van almal! Kalahari en Namib son………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.