Bewysbasis vir afsondering is swak, maan UJ-kundiges

Aucklandpark-kampus van die Universiteit van Johannesburg Foto: Wikipedia

 ʼn Span kundiges van die Universiteit van Johannesburg (UJ), onder leiding van prof. Alex Broadbent, waarsku dat die simulasiemodelle wat wyd gebruik word vir die voorspelling van Covid-19-sterftes, gebrekkig en misleidend is vir sowel die publiek as beleidmakers.

Die bevindinge van ʼn studie wat deur dié span kundiges gedoen is, is vervat in ʼn beleidsraamwerk met verskeie aanbevelings aan die regering rakende die afsonderingstydperk. Die span van UJ se Instituut vir die Toekoms van Kennis, bestaande uit Anthony Kaziboni (MA) asook drs. Benjamin Smart, Oluwaseun Tella en Damian Walker, maan in hul beleidsraamwerk dat Suid-Afrika nie op die huidige simulasiemodelle moet staatmaak as grondslag vir vlak 5- óf vlak 4-afsonderingsmaatreëls nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het die aand van 15 Maart ʼn nasionale ramptoestand afgekondig en verskeie beperkings ingestel, insluitend sosiale distansiëring, ʼn reisverbod, die sluit van grense, ʼn verbod op groot byeenkomste en die sluit van skole. Op 23 Maart het pres. Ramaphosa ʼn aanvanklike drie weke van algehele afsondering afgekondig, wat op 27 Maart ʼn aanvang geneem het. Volgens Broadbent was daar teen 27 Maart, sowat twee weke na die afkondiging van die ramptoestand en die instel van aanvanklike beperkings, op die dag wat die algehele afsondering begin het, ʼn merkbare afname in die tempo waarteen infeksies toegeneem het. Die verslag wys daarom uit dat die afname in die tempo waarteen infeksies toegeneem het, duidelik nie aan die algehele afsondering toegeskryf kon word nie, maar eerder aan die minder beperkende maatreëls wat aanvanklik afgekondig is. Volgens die verslag het die tempo waarteen infeksies toeneem, sedertdien steeds op dieselfde kurwe gebly.

(Foto: pixabay)

Regerings reg oor die wêreld het afsonderingstydperke of ander streng sosialedistansiëringsmaatreëls ingestel in die stryd teen die bekamping van die Covid-19-pandemie. Volgens die verslag wat onder leiding van Broadbent saamgestel is, het hierdie sosialedistansiëringsmaatreëls gewoonlik gepaard gegaan met gedetailleerde wiskundige modelle wat die aantal sterftes wat Covid-19 in verskillende scenario’s kon veroorsaak, voorspel het.

“Die politieke besluite om algehele afsonderingstydperke af te kondig, het egter nie met soortgelyke gedetailleerde modelle van die gevolge van afsonderingstydperke gepaard gegaan nie. Die evaluering van sulke gevolge was dus implisiet of afwesig.”

Die span kenners meen met Suid-Afrikaners se lewensverwagting van 60 jaar vir mans en 67 jaar vir vroue, impliseer dat baie mense ander ernstige lewensbedreigings in die gesig staar, wat die relatiewe bedreiging van Covid-19 verlaag. “Suid-Afrikaners het ander dinge om oor bekommerd te wees buiten Covid-19.”

Johannesburg (13 April 2020) (Foto: AP Photo/Jerome Delay)

Die verslag wys verder uit dat algehele afsondering in townships en landelike gebiede eenvoudig nie moontlik is nie, aangesien mense klein huisies deel en hulle hul huise moet verlaat om onder meer gemeenskaplike sanitasie te gebruik en maatskaplike toelaes af te haal.

Die bewysgrondslag vir die doeltreffendheid van spesifieke komponente van die afsonderingstydperk is oor die algemeen swak, voer die kenners in die verslag aan.

“Hande was is goed gevestig as ’n doeltreffende maatreël om die verspreiding van siektes te voorkom, maar is nie ’n afsonderingsmaatreël nie. Bewyse oor die dra van ʼn masker is nie afdoende nie. Daar is min of geen bewys dat die sluiting van skole enige voordeel inhou. Net so is daar nie sterk gevolgtrekkings te maak oor die uitwerking van rook – positief óf negatief – nie. Daar is ook geen bewyse dat alkoholverkope die infeksiekoers verlaag nie, hoewel ander redenasies hier ter sprake is (byvoorbeeld om druk op hospitale se ongevalle-afdelings te verminder).”

Met betrekking tot maatreëls wat elders in Afrika ingestel is, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) onlangs aangedui dat lande wat minder streng maatreëls implementeer, effens beter resultate gesien het as dié wat streng afsonderingstydperke geïmplementeer het, voer die verslag aan. “Die bewysbasis van ʼn afsonderingstydperk op vlak 4 of 5 is dus swak.”

Grafika: Elsabe Erasmus.

Die span beveel aan dat daar relevante bewyse op die tafel geplaas word wanneer aksieplanne geëvalueer word. “Daar moet van bewys-geëvalueerde raamwerke en kundiges gebruik gemaak word om getuienis te evalueer op grond van die aard en relevansie daarvan. Geen kundige, groep kundiges of voorspraakgroep se opinie mag meer gewig dra as ʼn ander sʼn nie aangesien almal elders leemtes kan hê of moontlik nie die geheel sien nie.”

Die beleidsraamwerk is vergesel van ʼn besluitnemingsinstrument wat beleidsmakers asook die publiek in staat stel om die impak van verskeie veranderlikes en gewigte in berekening te bring wanneer besluite geneem word.

“Met hierdie raamwerk wil ons balans en rede bring in die debat oor afsondering en wat volgende behoort te gebeur,” het Broadbent gesê. “Ons het ons eie siening oor wat volgende behoort te gebeur, maar belangriker nog: Ons wil vir beleidmakers ʼn struktuur gee waarmee besluite geneem en gekommunikeer word op só ʼn manier dat niks en niemand uitgelaat word nie.”

Broadbent voeg by dat die talle studies, mediaverslae en intervensies deur senior wetenskaplikes en politici verskillende aspekte van die Covid-19-krisis belig, maar dat daar weinig sprake is van gesamentlike denke.

“Mediaberigte oor hoë sowel as lae infeksiesyfers, waarskuwings van verskeie belangegroepe oor die uitwerking van afsondering op ander gesondheidsdienste asook die ekonomie, en die desperate pleidooie van dié wat die ergste deur die krisis geraak word – die een uit vier Suid-Afrikaners wat in armoede leef – word nie byeengebring in een, samehangende beleidsraamwerk nie. Ons hoop dat ons met hierdie voorgestelde raamwerk beleidmakers hiermee kan help, en, belangriker nog, hulle hiermee kan help om die rede vir hul besluite aan die publiek oor te dra.”

Voedselsekerheid en voeding

Hannes Noeth, hoof van Helpende Hand, help kos uitdeel in Derdepoort. Foto: Verskaf.

Die studie verwys onder meer na die ontoereikendheid van voeding wat aan kwesbare groepe voorsien word. Hoewel die Suid-Afrikaanse regering maatreëls ingestel het om te verseker dat die mees kwesbare groepe toegang het tot voedsel gedurende die afsonderingstyd deur welsynstoelae te verhoog en kospakkies te versprei, voldoen die inhoud van die kospakkies nie aan riglyne vir voedingswaarde wat deur die WGO gestel is nie, bevind die studie. Die kospakkies is ontoereikend in vier opsigte: i) Die dieetkundige verskeidenheid skiet tekort; ii) die koolhidraat-, proteïen- en vetinhoud daarvan is hoër as die voorgeskrewe hoeveelhede; iii) dit bevat voldoende hoeveelhede sink en yster, maar te min vitamien A; en iv) dit bevat 98% minder vitamien C as die aanbevole daaglikse hoeveelheid.

Onderwys

Volgens die span kundiges is daar geen aanduiding dat die sluiting van skole help om die verspreiding van die virus te bekamp nie.

As die negatiewe gevolge van die sluiting van skole op kinders se opvoeding, asook op die ekonomie as gevolg van ouers wat nie kan terugkeer werk toe nie indien hul kinders tuis moet bly, in ag geneem word, is daar ʼn baie sterk saak om skole as ʼn saak van dringendheid te heropen, sê die verslag. “Die beskikbare inligting ondersteun nie die vrees dat die heropening van skole kan bydra tot die verspreiding van Covid-19 nie.”

Om dié rede beveel die span aan dat skole onmiddellik vir alle kinders (met die uitsondering van kwesbare kinders) heropen, met die nodige higiëne- en sosiale distansiëringsopleiding en -maatreëls in plek. Daar word wel beklemtoon dat die nodige sanitasiegeriewe dringend aan alle skole verskaf moet word, en dat dadelik begin moet word met voorbereiding by skole wat nie oor die nodige sanitasie beskik nie.

Ekonomie en werkloosheid

Die nasionale tesourie waarsku tussen drie en sewe miljoen werksgeleenthede isi n die gedrag weens die uitgerekte afsonderingstydperk. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Ekonomiese groei en werkloosheid is nog ʼn groot bekommernis wat in die verslag geopper word. Dit word geprojekteer dat minstens 1,6 miljoen mense hul werk in Suid-Afrika kan verloor as gevolg van die Covid-19-pandemie.

Die span kenners beveel in die verslag aan dat ekonomiese aktiwiteit in alle sektore hervat word, onderworpe aan behoorlike sanitasie by werkplekke, sosiale distansiëring en gedeeltelike beperkings op samedromming by haltes vir openbare vervoer. Daar word ook aanbeveel dat werknemers, waar moontlik, van die huis af werk.

Kwesbare groepe

Volgens die verslag gaan vroue en kinders in Suid-Afrika meer gebuk onder huishoudelike geweld gedurende die afsonderingstydperk as normaalweg, aangesien dit tot verhoogde spanning in huishoudings lei. Boonop word kinders op kort en lang termyn te na gekom omdat hulle van onderwys ontneem word, en verder ʼn verhoogde risiko het van wanvoeding en ander aansteeklike siektes as gevolg van Covid-19.

Die verslag beveel daarom aan dat die regering beleid aanpas om spesifiek oorweging aan hierdie groepe te gee.

Regering en handhawing

Die span voer aan dat landsburgers nie genoegsaam beskerm word teen onregmatige en selfs fatale gedrag deur wetstoepassers nie. “Wettige ongehoorsaamheid” is, volgens die verslag, ook onvermydelik in sekere gevalle, soos byvoorbeeld waar mense nie in staat is om ingeperk te bly nie as gevolg van oorvol akkommodasie.

Waar regulasies gegrond is op enigiets anders as die beoogde uitwerking daarvan op Covid-19, is dit onwettig, voer die kenners aan. Die risiko bestaan dat regulasies, nadat dit geïmplementeer is, in plek sal bly totdat ‘n rede voorgestel word om dit op te hef.

Die span kenners beveel aan dat streng teenkorrupsie- en aanspreeklikheidsmaatreëls dringend ingestel word om aandag aan die onwettige en kriminele gedrag te gee van diegene wat moet seker maak dat wet en orde gehandhaaf word.

Dit word verder aanbeveel dat die inhoud van regulasies uitsluitlik geregverdig moet word met verwysing na Covid-19 ingevolge die wet en dat die inhoud van regulasies haalbaar moet wees vir afdwinging.

Broadbent moedig die publiek en besluitnemers aan om die raamwerk wat in die verslag aangebied word, te gebruik. “Met die gebruik van hierdie raamwerk het die gebruiker geen ander keuse nie as om die groter prentjie in ag te neem, wat van fundamentele belang is wanneer beleidsbesluite geneem moet word.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

daars ‘n paar wit name onder daardie kundiges van die UJ, so niemand in ons regering gaan na hulle advies luister nie. dit sal bloot afgemaak word as rassisties en ‘n “hunkering terug na apartheid”

Sarel

Hulle moet ophou Politiek speel en mors met mensecen iindes se kewens. Maar nou ja dit is wensdenkery

Willem

Wys jou hulle baklei binne anc en vergeet om na o ns geleerde vriende te luister. Hierdie afsondering was nie om die kurwe af te plat nie maar vir die anc kans te gee om die oorhand oor die ekonomie te kry

Baardman

Die regering sal ongelukkig NET vir hulle eie (on)kundiges luister.

Elsa

Van wanneer lister die ANC na so n belangrike verslag? Hul kan nie sê hul is oningelig.

Hierdie inperking moes nooit plaas gevind het nie. Kyk na die statistike van Swede.