Bewyse dat Orkas haaie aan Mosselbaai jag

Witdoodhaai. (Foto: ANA)

Wetenskaplikes het nuwe bevindings in die wetenskaplike vaktydskrif Ecology gepubliseer wat bewys dat moordvisse, of sogenaamde orkas, grootwithaaie aan die kus van Mosselbaai in die Wes-Kaap jag.

Beeldmateriaal wat vanuit ʼn helikopter geneem is en wat deur hommeltuie bekom is, wys hoe talle moordvisse haaie al langs die kus agtervolg.

“Hierdie gedrag is nog nooit voorheen in soveel besonderhede gesien nie, en beslis nog nooit vanuit die lug nie,” sê die hoofskrywer van die navorsingsartikel, Alison Towner, ʼn haaiwetenskaplike by Marine Dynamics Academy in Gansbaai.

Een deel van die uur lange beeldmateriaal wys hoe vyf moordvisse ʼn witdoodhaai jaag en doodmaak. Wetenskaplikes glo nog drie haaie is tydens hierdie jagtog doodgemaak.

“Orkas is hoogs intelligente en sosiale diere. Hulle jagmetodes maak hulle ook ongelooflike doeltreffende roofdiere,” sê Simon Elwen, ʼn seesoogdierspesialis en mede-outer van die artikel.

Moordvisse, wat die see se top-roofdier is, is bekend daarvoor om op ander haaispesies te teer, maar bewyse van hierdie aanvalle, soos beeldmateriaal, was voorheen skraps.

Wetenskaplikes het in hul jongste navorsing oor moordvisse en witdoodhaaie se interaksie opgemerk dat daar een moordvis was wat al voorheen haaie gejag het, maar dat die ander vier dit nooit vantevore gedoen het nie.

Die skrywers meen dat hierdie verskynsel daarop dui dat die praktyk om witdoodhaaie te jag besig is om meer algemeen by moordvisse te word. Vroeër navorsing het reeds daarop gedui dat moordvisse van mekaar kan leer deur middel van kulturele oordrag.

Ná die aanval wat eindelik op beeldmateriaal vasgevang is, het haaie skynbaar uit die gebied verdwyn. ʼn Witdoodhaai is eers 45 dae later weer in die gebied opgemerk.

Maroela Media het vroeër berig omtrent ʼn witdoodhaai wat op Hartenbos se strand, enkele kilometer van Mosselbaai, uitgespoel het. Die haai is vermoedelik deur ʼn moordvis doodgemaak.

Nico Booyens, marienebioloog en hoofnavorser by die haainavorsingseenheid in Mosselbaai, het toe al aan Maroela Media gesê dat witdoodhaaie ná die aanval van die kus verdwyn het.

Die jongste navorsing is egter gebaseer op ʼn voorval wat in Mei vanjaar plaasgevind het. Booyens is wel ook bewus van hierdie voorval.

Volgens die navorsers bevestig die afwesigheid van die haaie dat hulle inderdaad ʼn vlugreaksie het. Dit kan egter moontlik nog breër implikasies inhou.

Alison Kock, marienebioloog van SANParke, sê waargenome gevalle waar diere destyds sleutelhabitatte verlaat het, het ernstige gevolge vir die ekosisteem en haaiverwante toerisme gehad.

Daar is reeds meer haaie in die Plettenbergbaai-kusgebied opgemerk as wat daar normaalweg in die gebied is. Altesaam 12 haaie is Woensdagoggend in die gebied opgemerk. Hulle is vermoedelik uit Mosselbaai na ander kusgebiede verdryf weens die verhoogde moordvisinteraksies die afgelope tyd.

Die toename in haaie aan hierdie kusstrook het reeds tot die dood van ʼn vrou gelei nadat sy deur ʼn haai in die water naby Sentraalstrand aangeval is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Annalie ·

Ek verstaan dat die haaie by Mosselbaai n toeriste atraksie is veral met hokduik. Die haai populasie het baie groot geword in sekere omgewings omdat hulle kos kry sodat ons kan gaan fotos neem. Ons moet nie inmeng met die natuur nie, en as ons na die breër prentjie kyk is dit wonderlik om te sien hoe die Orca’s die haai populasie tem. Niemand kla as n leeu n bok vang in die wildtuin nie, hoekom dan ontstel word as die see ekologie ook hom self weer regruk

Adri ·

So word die balans in die natuur gehandhaaf. Wonderlike Skepper!

Voilet ·

Dit is vir my weird dat dit nou so ‘n groot ding is dat hul kom jag…hul BLY in die see. Natuurlik gaan hul oral wees. Hul het nie n radar wat se waar en wanneer hul waar mag wees nie…..die mense tree in hul gebied. Nie anders om nie

Jacob ·

Orkas het dieselfde gedoen by Gansbaai en in Valsbaai waar witdoodhaaie amper heeltemal verdwyn het en die moontlikheid dat haaihokduikery daarvoor te blameer is, moet onafhanklik ondersoek word. Behalwe die gebruik van lokaas en “chum”, word die haaie gelok deur voete te stamp op die dek van die haaihokbote. Klank trek baie vinniger en verder onderwater en dus is dit baie moontlik dat orkas gou voete stamp op ‘n dek assosieer het met die voorkoms van haaie. Moontlik ‘n rede waarom withaaie nou ook in Mosselbaai ‘n gewilde prooispesie geraak het waar haaihokduikery gedoen word en nie soseer in Plett nie. Stop haaihokduikery en moontlik stabiliseer dinge.

Wat is volgende, sal ons toelaat dat wildbesigtigingsvoertuie dooie rooibokke in Kruger Wildtuin rondsleep om leeus te lok sodat buitelandse toeriste kan juig, hande klap en fotos neem? As mense saam met witdoodhaaie wil duik, doen die harde werk, sonder hokke, lokaas, “chum” en voete stamp.

Martin ·

Die aanname oor hierdie interaksies is geen rede om te glo dat orka’s nie robbe en haaie honderde jare gelede gejag het nie, voordat mense regtig daardie diere begin uitbuit het. Dit is ongelooflik hoe intelligent en sensitief witdoodhaaie is en hoe orka’s die haaie wat soms hulle prooi is se bewegings so kan beïnvloed. Die ekoloë wat die haaie probeer beskerm hoef nie te bekommerd te wees dat dit sal lei tot ‘n kaskade van impakte op die ekosisteem nie, daar is volop haaie daar buite en Plet is maar net een van talle voorbeelde.

MJ ·

Dit was nou vir my ‘n interessante artikel.
Ek het beslis iets nuuts geleer!
Die natuur is wonderlik en ons Skepper is Groot.

Antie Sarie ·

Wow. ‘n Scenario waar diere moeg gejaag word sodat net n hap uit hulle lewer geneem kan word (dit is al wat die orca wil he), word beskou as wonderlik?

Veronika ·

Wow! Ek het nogal gewonder wat het die Haai gedryf na Plettenbergbaai se strand toe. Vreeslik om te dink Haaie moet ook vlug vir hul lewe……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.