Bewyse gesoek vir saak teen entstowwe

Argieffoto van die Covid-19 entstof. (Foto: Patrick T. FALLON / AFP)

Nadat strafregtelike aanklagte teen die nasionale tesourie, die nasionale departement van gesondheid en die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) ingedien is vir die toedien van Covid-19-inentings, samel die klaers ook bewyse in om hul saak hieroor te versterk.

Stop The Shots en verskeie ander drukgroepe beskuldig die owerhede daarvan dat hul “skadelike” entstowwe goedgekeur, bevorder, versprei en/of toegedien het – “en dít selfs aan kinders en tydens swangerskap”.

Volgens die drukgroepe het die owerhede boonop “valslik ontken” dat die Covid-19-entstof tot sterftes kan lei en inligting rakende die entstof doelbewus van die publiek weerhou.

Die drukgroepe is nou op soek na bewyse om dié argument te steun.

Dit sluit in bewyse rakende voorvalle waar die entstof na bewering sterftes of siekte veroorsaak het, of nie behoorlike getoets is vir moontlike skade aan vrugbaarheid of ongebore en pasgebore babas nie.

Voorvalle waar die entstof se genetiese uitwerking of vermoë om kanker te veroorsaak na bewering nie getoets is nie of die nodige toestemming nie voor toediening bekom is nie, kan ook as moontlike bewyse dien, sê Stop The Shots.

Dr. Faan Oosthuizen van Stop the Shots het in April vanjaar strafregtelike klagte namens dié organisasie, sowel as Covid Care Alliance, Transformative Health Justice en Free the Children – Save the Nation, aanhangig gemaak.

Die organisasies glo die owerhede kan moontlik in ’n hof skuldig bevind word aan onder meer nalatigheid, strafbare manslag en selfs moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.