Bfn-leraar se seun sterf in fratsongeluk in VSA

Die NG-gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein. Foto: http://www.bergendalkerk.co.za/

Die NG-gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein. Foto: http://www.bergendalkerk.co.za/

Robert Terblanche (36), die seun van ds. Gert Terblanche van Bloemfontein, is Dinsdag in ʼn fratsongeluk op ʼn beesplaas in Amerika oorlede.

Ds. Terblanche is al die afgelope 33 jaar as leraar by die NG-gemeente Berg-en-Dal in Dan Pienaar betrokke, bygestaan deur sy vrou, Retha.

Ds. Terblanche het aan Maroela Media gesê Robert het op ʼn beesplaas in Montana gewerk en was besig om voer te meng toe die ongeluk gebeur het. “Die masjien wat die voer kerf se hidrouliese arm het losgespring en hom agter teen die nek getref. Hy het sy nek gebreek.”

Volgens Terblanche was niemand by Robert toe die ongeluk gebeur het nie. Sy liggaam is eers later gevind. “Hulle het sy suster Elbet [Ray] wat in Atlanta woon in kennis gestel en sy het ons Dinsdag so omstreeks 20:00 laat weet.”

Hy vertel dat Robert, wat sy BRek-graad en STR-kwalifikasie aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het, aanvanklik ʼn ouditeur wou word, maar uiteindelik besluit het om voltyds te boer. “Hy en sy tweelingbroer, Burgert, boer op ʼn plaas in Verkeerdevlei wat Robert by sy oupa geërf het. Hy wou Amerika toe gaan om ʼn bietjie inkomste te verdien sodat hy die plaas kan opknap voordat ek en die tannie Junie daar gaan aftree en by hulle bly.”

Die egpaar se ander dogter, Ammerensia Nieuwoudt, woon in Nederland.

Terblanche het gesê dat Robert in Maart 2014 Amerika toe is, maar nooit gesê het wanneer hy gaan terugkom nie. “Hy wou hom nooit verbind tot ʼn terugkeerdatum nie. Miskien het hy in sy agterkop geweet hy sou nooit terugkom nie.”

Terblanche het sy seun as pligsgetrou, toegewyd en hardwerkend beskryf. Hy het gesê hy was vreugdevol en het altyd ʼn positiewe ingesteldheid teenoor die lewe gehad. “Hy was ʼn gelowige mens wat nooit sy godsdiens uitbasuin het nie, maar dit in stilte uitgeleef het. Ons glo dit was sy tyd. Hy het voluit gelewe.”

Geen begrafnisreëlings is al in hierdie stadium getref nie en volgens Terblanche sal sy seun vermoedelik in die VSA veras word. “Sy ma sal waarskynlik soontoe gaan om hom darem nog een keer te sien voordat hy veras word. Sy sal sy as terugbring waar ons hom langs sy ouma en oupa op die Verkeerdevlei-plaas sal begrawe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CHRISTA ·

Ons kan net bid dat die HERE hulle sal vertroos en bystaan tydens hierdie hartseer tyd.

Patrys ·

Ongelooflik hartseer vir ons wat mekaar reeds geslagte lank ken.

patrys ·

Ongelooflik hartseer vir ons families wat mekaar geslagte lank al ken. Net die Here kan troos bring

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.