
Argieffoto
ʼn 59-jarige man is Woensdagmiddag dood nadat hy vyf verdiepings ver geval het in ʼn gebou in Bloemfontein.
Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het aan Maroela Media gesê die man was besig om in ʼn skag te werk. “Dit is een van daardie skagte wat gewoonlik gebruik word vir onderhoudswerk. Telefoonkabels, brandslange en ander items word in dié skagte gestoor,” het Vermaak gesê.
Volgens die man se medewerker het hy in ʼn stadium vooroor geleun en toe in die skag afgeval.
Volgens Vermaak het die voorval in ʼn gebou in St. Andrewsstraat plaasgevind. “Ons paramedici het net na 15:00 by die toneel aangekom en het die man en die medewerker aan die onderkant van die skag aangetref. Die medewerker het onmiddellik ondertoe gehardloop toe die man geval het,” het Vermaak gesê.
“Die man het veelvuldige beserings opgedoen en daar was niks wat ons vir hom kon doen nie,” het Vermaak gesê.
Die omstandighede rondom die voorval sal deel uitmaak van die polisie se ondersoek.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
2 Kommentare
Health en Safety?? Waar was sy harnas? Hoe word hy op die perseel toegelaat sonder veiligheids klere….. Dis hoekom daar wette is!