Bfn-meisie sterf twee weke ná gru-ongeluk

Anrike Barnard. Foto: Verskaf

Anrike Barnard. Foto: Verskaf

Anrike Barnard (16), die Bloemfontein-meisie wat twee weke gelede ernstig in ʼn motorongeluk beseer is, is vroeg Maandagoggend oorlede.

Esmarie Cronjé, woordvoerder van die Life Rosepark-hospitaal, het aan Maroela Media gesê Anrike is Maandag omstreeks 02:00 aan algehele orgaanversaking oorlede. “Dit is vir ons almal so sleg en ʼn mens het maar altyd gehoop dat daar verbetering sal wees. Teen Donderdag se kant kon ons ongelukkig sien dat haar longe baie sukkel,” het Cronjé gesê.

Die ongeluk het die aand van 28 Maart op die hoek van Nelson Mandelarylaan en Jac van Rhynstraat in Bloemfontein plaasgevind toe ʼn beweerde dronkbestuurder agter teen die motor waarin Anrike ʼn insittende was, vasgejaag het. Sy het ernstige beserings aan haar longe opgedoen en ook haar bekken, femur en neus gebreek.

Anrike se ma, Marelize, het vroeër aan Maroela Media gesê die gesin het ongelooflike ondersteuning van regoor die wêreld ontvang sedert die ongeluk.

Konst. Wendy Nkabi, woordvoerder van die polisie, het gesê die bestuurder van die ander motor, Sechaba Kgaile (40), het in die Bloemfontein-landdroshof verskyn op aanklagte van dronk- en roekelose bestuur. Die saak is uitgestel.

Op die Facebook-blad van Hoërskool Sand du Plessis, waar Anrike ʼn gr. 10-leerling was, het mense huldeblyke aan haar en ondersteuningsboodskappe aan haar familie gedeel. Hierdie is die tweede tragedie wat die skool in ʼn kort tydperk getref het, nadat die lyk van nog ʼn gr. 10-leerling, Noeline Koekemoer, Dinsdag in haar slaapkamer gevind is.

Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf

Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Uys ·

dronk bestuur saak word nou moord. Hoop hy sit baie baie lank. Hy verdien dit. Aan die ouers en familie wat agter bly, vind julle troos in Jesus.

CJAN ·

Sluit die ding toe en gooi die sleutel weg!!! My innige simpatie aan die wat agter bly.

Anke ·

Innige simpatie aan familie en vriende. Bid dat die Vader en Seun julle sal styf vashou in hierdie baie moeilike tyd.

ELAINE ·

My innige simpatie met die familie niks wat enige een se gaan hulle laat beter voel nie maar onthou net Ons Hemelse vader maak sy mooiste blomme bymekaar. RIP Anrike Barnard

faith ·

Sterkte aan die familie. het ook my seun so verloor hy was passasier en bakkie en kar het gebots. Bestuurders was ook gedrink. Twee opslag dood en my seun later in icu. Mens vergeet nooit want jy onthou al die tye saam veral verjaarsdae. Die een bestuurder opgeskort maar nou ja niemand kan jou kind terugbring nie. Ek wens hulle wil strenger wees met dronkbestuur

Hannelie (Worcester) ·

My innige innige simpatie aan haar familie. Ai dit moet ‘n slag vir 2 families wees wat hul dogters so wreed verloor het. Baie sterkte, mag God vertroosting bring vir beide families in hul groot verlies. Haar “moordenaar” sal natuurlik weer vrygelaat word. Want dis mos hoe ons land se “reëls” werk.

Marlezanne en Retha ·

Baie sterkte aan Anrike se ouers, familie en vriende, mag julle troos vind in Jesus en nie treur asof sy verlore is nie, haal liggaam is nou geheel!! Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.