Bfn-motoriste gewaarsku teen oprit-kapings

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die polisie in die Vrystaat het Bloemfontein-motoriste gewaarsku om paraat te wees wanneer hulle snags huis toe bestuur nadat talle inwoners se motors die afgelope tyd in hul opritte gekaap is.

Kapt. Chaka Marope, woordvoerder van die polisie, het gesê net in die afgelope drie dae is twee motors in opritte gekaap, onderskeidelik in Universitas en Brandwag. “Volgens ons misdaadanalise-verslag wil dit voorkom asof hierdie kapings meestal opportunisties is en dit lyk nie asof daar ʼn duidelike patroon vir die tyd van die dag of spesifieke areas is geteiken word nie,” het hy gesê.

In een van die voorvalle is ʼn jong paartjie, beide 24 jaar oud, se motor in ʼn oprit in Groenewoudstraat Sondagoggend om 00:20 gekaap. Kort nadat die bestuurder stilgehou het en hy gewag het vir die hek om oop te maak, het ʼn onbekende voertuig agter hul motor stilgehou en twee gewapende rowers het op die motor afgestorm. “Hulle het die twee slagoffers uit die motor gedwing, vasgemaak en in die bagasiebak van die motor gedruk, voordat hulle met die motor weggejaag het,” het Marope gesê.

Die paartjie is later by die Phahameng-begraafplaas afgelaai. Polisie wat in die gebied op patrollie was, het die man en vrou gevind. Die voertuig is twee ure later teruggekry toe vier verdagtes probeer het om met die motor die grens na Lesotho oor te steek. Drie mans en een vrou is in hegtenis geneem, het Marope gesê.

In ʼn tweede voorval het ʼn 31-jarige man Maandagaand omstreeks 20:00 by ʼn gastehuis in Brandwag stilgehou toe twee gewapende mans hom gedreig en die motor se sleutels by hom afgeneem het. “Die verdagtes het probeer om hom in die bagasiebak te druk, maar hy het teruggeveg en kon daarin slaag om te ontsnap,” het Marope gesê. Die man het kopbeserings opgedoen nadat die rowers hom met die vuurwapens aangerand het. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Marope het motoriste aangeraai om nie voor ʼn hek stil te hou terwyl dit oopmaak nie, omdat dit kapers die geleentheid gee om jou vas te parkeer. Hy het gesê motoriste moet eerder langs die hek wag vir die hek om oop te gaan sodat hulle kan wegjaag indien nodig.

“As jy dink jy word agtervolg, ry verby jou huis en kontak dadelik die polisie of ʼn veiligheidsmaatskappy,” het Marope gesê. “Moet ook nie jou hek en jou motorhuis terselfdertyd oopmaak nie. Dit maak jou meer kwesbaar maak vir misdadigers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Verlede Sondag aand omstreeks 21:00h het n Wit golf met Lesotho nommerplaat met hazard ligte aan, my probeer afsny in Capt Proctor straat, ek het gemaak of ek bel en fotos neem toe golf wegjaag in straat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.