Bfn-polisieman se moordenaar tronk toe

(Argieffoto: SA Polisie/Facebook)

Thembelani Sidwell Ngaleka (30) is Vrydag in die Bloemfonteinse hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op ’n polisiebeampte.

Die oorledene, konst. Ofentse Odirile Katlego Mokgadinyane (31), is op 12 Oktober 2020 in sy huis in Bloemspruit, Bloemfontein, tydens ’n huisroof doodgeskiet. Mokgadinyane was by die Parkweg-polisiestasie in Bloemfontein gestasioneer.

Maroela Media het vroeër berig drie verdagtes het Mokgadinyane se huis se agterdeur oopforseer en só toegang tot die huis verkry. Net nadat hulle die huis betree het, het hulle dadelik op die konstabel begin losbrand. Hulle het met die konstabel se skootrekenaar en beursie gevlug.

Volgens kapt. Christopher Singo, polisiewoordvoerder, het die Valke saam met die misdaadintelligensie-eenheid Ngaleka en sy twee makkers etlike ure ná die voorval in hegtenis geneem.

Ngaleka is Vrydag skuldig bevind op aanklagte van moord, diefstal, huisbraak met die opset om te roof en die besit van ’n ongelisensieerde outomatiese vuurwapen.

Die ander twee verdagtes is van al die klagtes vrygespreek. Singo het nie op die rede hiervoor uitgebrei nie.

“Ngaleka is tot lewenslange tronkstraf vir moord gevonnis. Hy is ook tot 15 jaar tronkstraf vir die oorblywende klagtes gevonnis. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word,” het Singo bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.