Bfn-sakeman sterf in botsing met trein

Gerhard Slabber was die eienaar van Cable Man in Bloemfontein – ʼn besigheid wat kabels vervaardig en verskaf het (Foto: Gerhard Slabber, Facebook)

Tientalle boodskappe van medelye en huldeblyke het ingestroom ná die dood van Gerhard (Gerrie) Slabber (46), ʼn bekende sakeman van Bloemfontein. Slabber is Sondag dood toe ’n aankomende lokomotief sy bakkie op ’n spoorwegoorgang naby die stad getref het.

Maroela Media het vroeër berig die ongeluk het Sondag omstreeks 15:10 by die Marius-spooroorgang op Ferreira plaasgevind. Slabber is op slag dood. Die plaaslike brandweer en reddingsdienste moes meganiese toerusting gebruik om Slabber uit die bakkie se wrak te bevry.

Die plaaslike polisie het ʼn saak van strafbare manslag aanhangig gemaak.

Slabber was die eienaar van Cable Man in Bloemfontein – ʼn besigheid wat kabels vervaardig en verskaf het.

ʼn Vriend van Slabber se familie het op voorwaarde van anonimiteit en namens die familie gesê die familie probeer sin maak van die ongeluk. Hulle sien in hierdie stadium nog nie kans om kommentaar te lewer nie.

Die wrak van die Ford Ranger. (Foto: Verskaf)

Die vriend vertel Slabber het ʼn passie vir motorwedrenne gehad.  Hy het ook in sy vrye tyd graag aan aksienetbal en aksiekrieket deelgeneem.

“Gerrie was baie bekend in plaaslike sportkringe. Hy het baie vriende gehad en was alom geliefd,” vertel die vriend.

Die vriend beskryf Slabber as ’n goeie en spontane mens wat altyd bereid was om sy naaste te help.

Bianca Langeveldt, ’n vriendin van Slabber, sê Slabber was ‘n legende op en af van die sportveld. Sy sê hy het elke dag voluit geleef en hy was lewenslustig.

Slabber het ʼn passie vir motorwedrenne gehad (Foto: Gerhard Slabber, Facebook)

“Hy het altyd almal om hom laat lag en almal vermaak met sy briljante danspassies… Hy was ’n mense-mens en jy kon altyd op hom staatmaak. ’n Klein man met ’n hart drie keer so groot as hy. Hy los vir seker ʼn groot leemte in baie mense se harte,” het Langeveldt aan Maroela Media vertel.

Bloemfontein Oval, die Schoemanspark Speedway- en die Bloem Action Sports-sportvenue het op Facebook hul medelye aan Slabber se vriende en familie betuig.

“Jy was vreesloos op die baan en op die rugbyveld; jy sal gemis word,” het Schoemanspark Speedway geskryf.

“Gerhard Slabber jy was ’n legend my maat… Vlieg hoog, mag jy sag rus by Jesus se voete ou Gerra,” skryf Anastia Lesley Ackerman.

Slabber word oorleef deur sy eksvrou, Elize Polak, en kinders, Ruan en Marelize Slabber.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Thelsa ·

Teen wie sou die pllaslike polisie ‘n strafbare mansslag gemaak het ?

Perdeby ·

Teen die bestuurder van die voertuig sl is hy dood moet daar nog steeds n dossier geopen word om die saak te sluit. Dit werk nog al die jare so

Realis Thailand ·

In die geval moet daar n geregtelike ondersoek geopen word en nie strafbare manslag nie.
Daar is geen nalatigheid aan die treindrywer se kant maar wel aan die besturuder van die voertuig .

Aai ·

(Rus in vrede)wat ek nie kan verstaan is ‘n trein beweeg nie vinnig en is baie groot hoekom sien mense hom nie raak?

piet ·

Die voertuig het seker gestol en hy kom dit nie aan die gang kry nie. Oorgang kan ook dalk op ‘n blinde hoek wees waar mens nie die afstand goed kan skat nie.

Yvonne ·

So jammer….maar die trein ry op n spoor en kan nie daarvan afwyk nie….so dis n motor bestuurder wat voor n trein inry…dit bly egter tragies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.