Bfn-skool rou ná leerder verongeluk

Riaan Kalp (Foto: Verskaf)

Onderwysers en leerders van Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein is in rou gedompel nadat ʼn gr. 11-leerder Vrydag in ʼn motorfietsongeluk dood is.

Die 17-jarige Riaan Kalp is op slag dood toe sy motorfiets ʼn sypaadjie in William Stead-straat in Uitsig, Bloemfontein, getref het. Riaan se motorfiets was die enigste voertuig in die ongeluk betrokke.

Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het die ongeluk omstreeks 19:30 plaasgevind.

Makhele sê die polisie het by hul aankoms op die toneel Riaan se lewelose liggaam op die grond aangetref.

“Hy het van die motorfiets afgeval toe hy die sypaadjie tref en is op slag dood,” bevestig Makhele.

Riaan is van gr. 8 af in Hoërskool Fichardtpark en die personeel besing sy lof.

“Riaan het akademies goed presteer en was ʼn voorbeeldige kind. Hy was ʼn kwaliteit leerder en voorbeeld vir ander,” vertel Johan Kruger, die hoof van dissipline, aan Maroela Media.

Sylvia Jansen van Vuuren, Riaan se besigheidstudies-onderwyseres, sê hy was goed gemanierd en vriendelik.

“’n Mooi glimlag het altyd om sy mond gevorm en selfs deur die masker kon jy sien hy glimlag,” vertel Jansen van Vuuren.

Lize Lombard, Riaan se toerisme-onderwyser, sê Riaan was altyd op sy plek en baie ordentlik.

Riaan het ook uitgeblink in rugby.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sandra ·

Innigste simpatie aan sy ouers en familie vir hulle groot verlies.

Misky ·

Innige simpatie aan die familie. Bitter hartseer en die jong man het so blink toekoms gehad.

Gert K ·

Elke keer as ek sulke nuus sien, breek my hart. Mag die familie vertroosting vind.

Elmarie ·

Sjoe, wat ‘n skok en groot verlies. Baie sterkte aan sy ouers, familie en vriende

Skappie ·

Sterkte aan sy gesin, familie en vriende. Mag onse Liewe Heer julle almal styf vas hou in hierdie moeilike tyd wat vir julle voorle.

Toy ·

Ek kry eintlik ‘n pyn in my binneste so hartseer is dit, Here gee asb die gesin en familie krag om deur hierdie hartseer tyd te kom.

Chantel ·

Oh liewe aarde, watse hartseer storie nie. Sterkte vir sy gesin, familie en vriende. Ongelukke gebeur so vinnig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.