Bfn-studente vas ná moord op medestudent

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

Twee studente van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (CUT) het Maandag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn op aanklag dat hulle ʼn medestudent vermoor het.

Kapt. Chaka Marope, woordvoerder van die polisie, het gesê Okene Douglas (21) en Tebello Tsubella (22) word aangekla van die moord op ʼn 25-jarige medestudent. Hy het gesê die oorledene was ʼn tweedejaar-ingenieurswesestudent.

Volgens Marope is die oorledene glo op 18 Julie met gholfstokke geslaan en met ‘n skerp voorwerp gesteek by sy woonstel in Partiffstraat. “Die verdagtes het glo die liggaam aan die brand gesteek en dit later naby die spoorweg in Uitsig gestort. Die verkoolde lyk is Maandag deur verbygangers gevind, waarna die polisie in kennis gestel is.”

Marope het gesê Douglas en Tsubella het die oorledene glo van ʼn onbekende bedrag kontant, ʼn televisie, iPhone en klere beroof. Hulle het glo ook sy motor gesteel en dit vir ʼn “plesierrit” geneem. Die motor is Woensdag naby Unversitas gevind.

Volgens Marope is Douglas en Tsubella Vrydag by ‘n woonstelkompleks in Willows in hegtenis geneem. Die saak is tot 3 Augustus uitgestel wanneer die verdagtes na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Dan Maritz, woordvoerder van CUT, kon nie onmiddellik die voorval of bewerings dat die verdagtes en oorledene studente is bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.