Bfn-tienermoord: Gerugte nie bevestig oor oudwerker se rol

Noeline Koekemoer. Foto: Facebook

Noeline Koekemoer. Foto: Facebook

Gerugte dat ʼn voormalige werknemer moontlik betrokke was by die moord op die 15-jarige Noeline Koekemoer van Bloemfontein kon nie deur die polisie bevestig word nie.

Kapt. Chaka Morope, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê geen verdagtes is al amptelik in dié stadium aangedui nie. Marope het gesê hulle is hoopvol dat die ondersoekspan teen die einde van die week ʼn deurbraak sal maak.

Noeline se liggaam is verlede week in ʼn plas bloed op haar slaapkamervloer deur haar ma, Natasha, aangetref. Noeline is vermoedelik met ʼn stomp voorwerp geslaan en verwurg. ʼn Saak van verkragting word ook ondersoek.

Gerugte doen sedert die moord die ronde dat ʼn voormalige werknemer van die eienaar van die kleinhoewe by die moord betrokke was. Dennis Castens, ʼn familievriend, kon ook nie die gerugte bevestig nie. Hy het wel gesê dat die familie tot dusver baie tevrede is met die polisie se ondersoek.

Volgens Castens woon Natasha sedert die moord by hom, maar moes intussen na die woonstel terugkeer om klere en persoonlike besittings te gaan haal. “Dit was nie lekker nie. Dit was vir haar baie ontstellend,” het hy gesê.

ʼn Gedenkdiens vir Noeline is Saterdag by die Ou Apostoliese kerk in die stad gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.