Bfn-tienermoord: Sy het nie verdien om só wreed te sterf, sê ma

Noeline Koekemoer. Foto: Verskaf

Noeline Koekemoer. Foto: Verskaf

Die ma van die vermoorde 15-jarige Noeline Koekemoer van Bloemfontein, het Donderdag gesê haar dogter was “haar alles” en het nie verdien om só te sterf nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn 38-jarige verdagte is gister in verband met die moord in hegtenis geneem. Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, het gesê die man is ook ʼn inwoner van Bainsvlei waar Noeline gewoon het. Hy sal na verwagting Vrydag of Maandag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en verkragting.

Noeline se liggaam is verlede week in ʼn plas bloed op haar slaapkamervloer deur haar ma, Natasha Mans, aangetref. Noeline en haar ma het in ʼn woonstel op ʼn kleinhoewe in Bainsvlei gewoon. Sy is vermoedelik verwurg. ʼn Saak van verkragting word ook ondersoek.

Dennis Castens, ʼn familievriend, het gesê hulle weet dat dit ʼn baie lang tyd sal neem voor Noeline se moordenaar agter tralies is. Volgens Castens is die man wat in hegtenis geneem is, ʼn werker wat voorheen op die kleinhoewe gewerk het waar Noeline vermoor is. Marope kon dit egter nie bevestig nie en het gesê dit sal deel vorm van die ondersoek.

Mans het aan Maroela Media gesê haar dogter was ʼn pragtige, gewilde en godsdienstige kind. “Sy het net die goed in almal gesien. Sy het nie verdien om só wreed te sterf nie. Sy was my alles,” het sy gesê.

Mans het die ondersoekspan, en spesifiek kapt. Abé Cilliers, bedank vir hul harde werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paplepel ·

Is dit die berigskrywer, die Ma of ek? “Sy het nie verdien om so wreed te sterf nie.” Verdien enige iemand om anders as natuurlik te sterf? Volgens my het die kind nie verdien om te sterf nie, PUNT! Wreed of andersins.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.