Bfn-vrou wag steeds op operasie ná valskerm-ongeluk

Burger in die hospitaal. Foto: Verskaf

Burger in die hospitaal. Foto: Verskaf

Tien dae nadat Riana Burger (42) haar been tydens ʼn valskermsprong in Bloemfontein gebreek het, wag sy steeds op ʼn operasie in die Pelonomi-staatshospitaal.

Burger het intussen bloedklonte in haar long en heup ontwikkel omdat sy so lank gelê het en moes na die hospitaal se waakeenheid geskuif word.

Johan de Bruyn, Burger se pa, het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy dogter is Maandag uit die waakeenheid weer terug na ʼn algemene saal oorgeplaas. “Die dokter het gesê hulle wag nou op mediese apparaat om van die Universitas Akademiese hospitaal te kom voordat hulle met die operasie kan voortgaan. Die apparaat is byna soos ʼn klein siffie wat in die aar geplaas word om die bloedklont te vang as dit sou loskom. Daarsonder is dit te gevaarlik om op haar te opereer,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat Burger haar femurkop gebreek het met ʼn slegte landing tydens ʼn valskermsprong. Sy is in die Pelonomi-hospitaal opgeneem ná die ongeluk, waar dokters gesê het dat sy opereer moet word. Nietemin wag sy sedertdien vir haar beurt op die operasietafel. De Bruyn het vroeër gesê verpleegpersoneel ignoreer sy dogter se versoeke vir pynmedikasie en haar familie moes self haar skraapwonde skoonmaak en ontsmet.

De Bruyn het Dinsdag gesê die hospitaal se verduideliking waarom Burger steeds nie geopereer is nie, is dat haar mediese toestand nie ʼn noodgeval is nie. Hy het egter gesê sedert die familie die saak met die hospitaalbestuur opgeneem het, ontvang Burger nou pynmedikasie.

Volgens De Bruyn het hulle in dié stadium geen idee wanneer Burger geopereer sal word nie. “Ek wil haar nou net gesond kry sodat sy kan huis toe gaan. Dit is al wat nou vir my saak maak,” het hy gesê.

Maroela Media wag op kommentaar van die Vrystaatse departement van gesondheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Landie ·

Is dit nie hartseer dat dit gewoonlik die mense is wat so hard aan belasting betaal, maar nie ‘n mediese fonds kan bekostig nie, wat so moet sukkel. Maar nou ja, Zumpie het mos ‘n goeie storie om te vertel. Hopelik eendag as hy oppad uit is, gaan hy ook in ‘n staatshospitaal moet lê en wag om gehelp te word. Dit sal seker die beste dag van ons almal se lewens wees!!! Sterkte aan die dame, mag sy gou gehelp word. Maar ek dink ook nie valskermspring is ‘n goeie idee nie!!!

Riana Barnard ·

Ag Here help asb die vrou dat sy daar kan uitkom huistoe. Ek leef met intense pyn elke dag. Het n lelike ding aan my regter bors en sit met n” ruimte innemende letsel” Aan die lewer maar kan nie vir toetse of enige mediese ondersoeke gaan nie. Ek het nie die geld nie. Sou ek na n hosp toe moet gaan is dit na die Witbank staatshospitaal. Ek sê ook ek wil by my huis sterf maar wat doen ek aan my mense. Hulle sal my nie kan versorg nie. Waar gaan ek heen.? Waarnatoe met my?

Annie ·

Ek stem nie saam nie! Hoe weet jy dat sy vir die sprong betaal het? Miskien het iemand haar sponser. Sy kons dalk al jare gespaar het vir dit. Wie is ons om te oordeel. Mediese fondse is deksels duur en daar is vrek baie mense daar buite wat dit nie kan bekostig nie! Van ons spaar maar vir n bietjie vermaak. Ons het dit ook nodig!

Z bc ·

Mens weet nie wat die vrou se omstandighede is nie. Hoop jy word vinnig gehulpe. Dis sleg om te weet daar kan gehelp word, maar weens omstandighede buite mens se beheer kom die hulp dikwels te laat……..

Irene Myburgh ·

Wonder net die hospitaal personeel reken sy is nie ‘n nood geval nie. Maar as ‘n mens nou lees dat sy al bloed klonte ontwikkel as gevolg van haar beserings en die lank lê in die bed gaan sy binnekort ‘n nood geval word. Waarom eers wag dat ‘n mens erger word voor jy hulp kry.

Beatrix Stevens ·

Van my kant Af””’ Hoekom moet jy nou staan en klippe gooi??? doen jy nie ook so nou en dan iets wat jou geld kos?? ”’ Dis nie almal wat n medies kan bekostig”” en Staats Hospitaal of nie”’ Hul is veronderstel om die nodigte toerusting aante hou… vir enige nodigge operasies”’ Hul kan sien dat die vrou in pyn lewe… en sekerlik is daar iets wat hul kan doen( as hul wil) Of is dit nou weereens n saak van ( Ons gee nie regtig om)?? Riana mag n Engel aan jou n wonderwerk verig”’ Mag daar iemand wees wat jou pyn raaksien… Glo en vertrou… als gaan gou gou weer beter wees”’ Sterkte aan die Familie

Yvonne ·

Van my kant af ek wonder hoe lyk jou glas paleisie, pasop vir klippe gooi. Hou eerder by die feite wat jy ken asb

Nadia ·

Ek sit met trane in my oë soos ek die lees…. net 2 weke gelede het ek ‘n baie goeie vriend van my verloor weens ‘n motorongeluk. Hy het slegs sy been gebreek, maar weens finansiele moeilikheid kon hy of sy gesin nie ‘n mediese skema bekostig nie en is opgeneem in ‘n staatshospitaal. Hy het die Dinsdagoggend die ongeluk gehad, en die Sondagoggend is hy oorlede weens ‘n bloedklont wat losgeskiet het. ‘n Bloedklont wat verhoed kon geword het…nou is sy vrou van 16jaar en hul 7jarige dogtertjie sonder ‘n man en pappa. Ek verstaan dat mens nie die finansies kan hê om ‘n medies te bekostig nie, ek self het dit nie breed nie, maar het so na my budget gekyk en navorsing gedoen en ek het ‘n mediese fond waar beide ek en my seuntjie hospital plan het en rescue plan het. Die daaglikse dokters besoeke en so is nie vir my van belang nie, maar daai hospitaal plan is! En dit is bekostigbaar as jy net die titseltjie moeite doen en na jou eie finansies kyk en bietjie hier sny en daar sny om dit te kan bekostig. Daar is altyd ‘n uitweg.

Lelanie Roets ·

Hoekom moet mense altyd so kleinlik wees? Jy ken nie die omstandighede nie? Dalk was valskermspring nog altyd ‘n droom van haar en het sy lank gespaar – dalk het iemand dit vir haar betaal… mediese fonds is baie duur en jy moet dit maandeliks betaal – nie net eenkeer en dan is dit verby nie. Statisties is valskermongelukke ook baie minder as soveel ander daaglikse dinge wat ons doen

Dis hoe dit is ·

Mediese fonds of nie.
Of dit staat is of nie.
Die se hospitaal sal en moet na jou welstand omsien.
Maar dis omdat die suster harder skree as die dokter en dink hulle besit die hospital en die res moet hulle monde hou en mag niks se nie. Dis hoekom dit so gaan, niemand vat hulle vas nie.
Ons as mense is tog maar te ordenklik om in hoofletters te praat met die susters omdat ons hulp nodig het, maar hulle houding is jy is verlee.
Ja op daai stadium is jy verlee maar hulle het nie die reg om jou as een van hulle toerusting te behandel.
Mens bly n mens,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.