Bfn-waterfront verduidelik oor voorval met roeiers

Die Loch Logan Waterfront in Bloemfontein. Foto: Facebook

Die Loch Logan Waterfront in Bloemfontein. Foto: Facebook

Die Loch Logan Waterfront in Bloemfontein het ʼn onlangse voorval betreur toe polisiebeamptes glo gedreig het om roeiers in hegtenis te neem omdat hulle “sonder toestemming” met kano’s op die water geroei het.

Chris Joubert, ʼn roeier van Bloemfontein, het aan Maroela Media gesê die Waterfront word gereeld deur roeiers van die Rosestad gebruik. Hulle word egter dikwels deur veiligheidsbeamptes verhinder om daar te roei, glo omdat hulle nie die nodige toestemming het nie. Joubert het gesê Saterdag se onderonsie met die veiligheidsbeamptes het byna tot hul inhegtenisneming gelei nadat die polisie ontbied is om toe te sien dat Joubert en sy mederoeiers aan wal gaan.

“Veiligheidsbeamptes het ons per boot aangekeer en beveel om uit die water en na ʼn kantoor in die gebou te gaan. Ons het net geweier,” het Joubert gesê. “Toe ons uitklim, het twee polisiebeamptes met ’n uitdagende houding ons voorgekeer. Die polisiebeamptes het ons verseker dat hulle ons in hegtenis sal neem indien ons weer sou roei. Die beamptes was nie in staat om die inhegtenisneming op enige wette of regulasies te grond nie.”

“Ons meen die Loch Logan-bestuur eien hulle onregmatige eienaarskap van munisipale eiendom toe. Die Loch Logan Waterfront besit bloot die eiendom langs die dam, dus het hulle geen reg om roeiers die water te verbied nie. Ek is nie bereid om hierdie reg en vryheid prys te gee nie. Dit is nie vir my ’n opsie om enigsins toestemming te gaan vra nie, aangesien alle Bloemfonteiners hierdie reg het,” het hy gesê.

Meryl Henning, woordvoerder van die Waterfront, het aan Maroela Media gesê die bestuur betreur die voorval en is jammer die betrokkenes het die winkelsentrum nie direk genader om die saak op te los nie. “Die sentrumbestuur is glad nie teen roeiers nie, maar wel teen diegene wat misbruik [van die dam by Loch Logan] maak,” het sy gesê. “Inteendeel, roeiers soos die plaaslike roeiklub wat toestemming van die departement parke het om dit [die dam] op ʼn georganiseerde grondslag te gebruik, word heelhartig deur ons ondersteun en is ʼn bate vir die Waterfront.”

Henning het gesê die sentrum bestee duisende rande om die water en die omgewing om die Waterfront skoon te hou en selfs die eende in die water word gereeld getel. “Ons bootjie en personeel maak daagliks die water skoon en laat ruim rommel wat van ander gebiede in Bloemfontein deur die spruit meegesleur word, daagliks op.”

“Ongelukkig is daar gereeld ʼn element wat die natuurskoon versuur en misbruik maak van hierdie ontspanningsgerief, soos twee weke gelede toe twee mense onder die invloed van alkohol ingespring het en die fontein in die middel van die meer beskadig het. Volgens ons samewerkingsooreenkoms met departement parke is dit ons veiligheidsbeamptes se verantwoordelikheid om toesig te hou en toe te sien dat munisipale regulasies nagekom word. In gevalle waar mense onwettig optree en nie die nodige permitte of briewe kan voorlê [om die dam te gebruik nie], word hulle gevra om die gebied te verlaat. Indien hulle nie gehoor wil gee nie, word metropolisiebeamptes of lede van die SAPD ingeroep om die aangeleentheid verder te hanteer.”

Henning het gesê die hele onsmaaklikheid kon verhoed gewees het indien die betrokke roeiers die nodige permitte in hul besit gehad en dit aan die veiligheidsbeamptes getoon het. “Ons doen ʼn beroep op roeiers om dit [die nodige dokumente] wel by die departement parke te kry indien hulle dit nog nie gedoen het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Ben ·

Ag asseblief! Is daar nie regte “kroeks” om te vang nie? Net in Suid Afrika! Eish!

Hennie ·

Klink weer soos ‘n klomp mags behepte polisie en sekuriteit beamptes. Te lui om enige noemenswaardige werk te doen.

Karma ·

So, Hennie, die sekuriteitsbeamptes wat jou huis/besigheidsperseel oppas en reageer as daar ‘n inbraak-alarm afgaan, is ook lui, nuttelose wesens wat te lui is om enige noemenswaardige werk te doen???

m ·

Ek is amper seker dat daar meer as genoeg kriminele in die strate is om te vang. Los die mense uit wat in vrede besig is met wat hulle geniet. hulle pla niemand nie. Ten minste bemors hulle nie die wereld soos sekere nasies nie.

Karma ·

@m – ry jy in ‘n ongelisensieerde motor sonder geldige bestuursbewys? Dan verbreek jy die landswette. Watter “oortreding” is die ergste – jy wat in jou ongelisensieerde motor ry, sonder ‘n geldige rybewys of hierdie ouens wat ‘n munisipale gerief gebruik waarvoor daar permitte (dieselfde ding as ‘n lisensie) gekry moet word? Daar is nie ‘n ding soos ‘n groot sonde of ‘n klein sonde nie. Dit kom op dieselfde ding neer: hulle het geweet hulle moet permitte by hul hê en het nie gehad nie; toe hulle gekonfronteer word het hulle tien teen een hul gatte opgeruk en nie-so-vriendelik met die beamptes gewees nie, wat toe binne hul mandaat opgetree het en die ouens wou verwyder. Reg is reg en verkeerd is verkeerd.

Karma ·

Ben, dalk was die sekuriteitsbeamptes se optrede NIE so vergesog nie. Ek werk self by ‘n sentrum met ‘n lieflike waterfront (privaatgrond) en dam (munisipale grond) in ons mooi Noord-Bolandse hoofdorp van die streek. By die dam kom vang die mense vis en tot onlangs was daar ‘n ietwat verwaarloose stukkie grond, net met bome beplant ens. waar die mense kom piekniek hou het. Nou word dit deur ons sentrum ontwikkel tot ‘n volskaalse piekniek-area (teen duisende rande, bygevoeg). Mense kan VARKE wees, glo my. Kom hulle hier in die winkelkompleks in, doen hulle die vreemdste goed – ruk toiletrolle uit, verstop die toilette daarmee, laat hulle kinders toe om te ontlas en te urineer in die naaste hoekie, smyt vuillis en afval neer net waar hulle wil. En moet nou net die die mense aanpraat nie, dan is jý verkeerd en hulle – die kliënt of besoeker – reg. Hierdie ouens het nie permitte gehad om daar te roei nie – hulle het dit geweet. Maklikste oplossing? Gaan kry jul permitte en die sekuriteitsmense (wat net hul werk doen) sal jul nie weer pla nie.

Daan ·

Ruk toilet rolle uit. Verstop toilette. Nou wat het dit met die roeiers te doen? Ons is voorwaar omring deur idiote

Nevi ·

Karma
Dankie tog dat jy vir ANDERE moet help DINK. Praat van WETTELOOSHEID…Dan kan hulle mos maar karre ry en gunne het en wild jag sonder die nodige lisensies en permitte…..

Karma ·

Want dit is munisipale eiendom, wat munisipale geld kos om in stand en skoon te hou. En permitte verhinder (in ‘n mate) ongewenste elemente wat die natuur skade aandoen, eiendom beskadig (soos daardie spul dronkes wat die fontein wou afbreek) en is ‘n inkomste vir die munisipaliteit. DAAROM IS PERMITTE NODIG.

Piet Snot ·

Nee Karma, mens benodig as algemene reël nie permitte om munisipale eiendom te gebruik nie. Jou uitgangspunt is verkeerd.
Sou daar ‘n spesifieke regulasie bestaan wat ‘n permit vir ‘n spesifieke (tipe) eiendom vereis, moet jy natuurlik jou permit kry.
Tot dan is dit elkeen van ons se reg om die eiendom vryelik te gebruik.

Aster ·

Die roeiers is duidelik profesioneel…en sal nie gaan roei net om skade aan te rig nie. Polisiebeamptes…spit asb julle eerder toe op die honderde moorde wat elke dag plaasvind….kom polisiebeamptes….kom ons probeer die kriminele en moordenaars eerder vastrek!!! Julle kan mos as julle wil???

Karma ·

Twee elementêre sake wat van mekaar verskil soos dag van nag verskil. Dié ouens het op munisipale regulasies oortree; die sentrum se sekuriteit het die mandaat om op tree (seker in ooreenkoms met die munisipaliteit). Die ander saak (van gewone kriminele e.d.m.) is onvergelykbaar aangesien dit in ‘n breër omgewing bespekuleer kan word.

Die dié roeiers professioneel was, sou hulle hul permitte uitgeneem het en geen probleem gehad het met die sekuriteitsmense wat hul werk gedoen het nie. En niemand het gesê hulle het of gaan skade doen nie: hulle was op ‘n plek, wat permitte vereis het, sonder daardie nodige permitte en daarom het hulle munisipale beheermaatreëls oortree. Punt, einde van die saak. @Aster, is daar vir jou nie ‘n verskil tussen POLISIEBEAMPTES en VEILIGHEIDSBEAMPTES nie? Die Polisie is ontbied nadat die (wintie) roeiers natuurlik nie wou toegee aan die veiligheidsbeamptes se versoeke om aan wal te gaan nie. Ek dink in die gewone volksmond staan dié tipe polisieoptrede as VOORKOMENDE GEMEENSKAPS-VEILIGHEIDSAKSIE bekend.

Breggie ·

Die verkeerdelik aangehaalde woorde van die roeier laat hom baie meer wintie lyk as wat hy is en as wat sy veldtog wat hy hieroor op Facebook begin het aantoon. Ek weet hy het NIE geweet mens benodig permitte op ‘n publieke dam waar daar geen borde is wat aantoon dat mens permitte moet hê nie. Hy wou bloot sy en ander roeiers se reg beskerm teen wat hy gesien het as grootkoppe se aanmatiging van hulle jurisdiksie oor publieke eiendom. Wat van die mense wat in die openbare park, reg langs waar roeiers in die water klim, braai. Het hulle dan toestemming nodig om daar te braai? Uit daardie geledere kom waarskynlik dronkaards wat mors en beskadig. As hulle daardie vryheid het sou meeste regdenkende mense dink jy mag ook daar roei as daar geen tekens is wat die teendeel aanwys nie. En nee, hierdie is nie mense wat professioneel roei nie, hulle is buitelugliefhebbers en avonturiers met gewone werk/studies.

Wat-ek-lees ·

Onthou dat in SA is die een wat aangespreek word altyd reg. Dus is die persoon wat die betigting doen altyd verkeerd.
Ek sal graag die derde kant van die saak wil hoor. Dit werk mos so: my kant, jou kant en die derde en regte kant.

Chris Joubert ·

Ek sal met die Waterfront se bestuur in kontak kom, hopelik kan ons iets uitwerk. En ek is dankbaar vir die opruimingwerk wat hulle doen.
Ek wil maar net byvoeg dat ek al langer as tien jaar daar roei sonder ‘n permit en sonder om deel te wees van ‘n roeiklub. Dis eers in die laaste 2 jaar dat die sekuriteit ons lastig val. Van my vriende roei al meer as dertig jaar by die Waterfront en toe my ouers op universiteit was het hulle daar geroei. Van al hierdie mense het ek nog nooit van niemand gehoor wat ‘n permit uitgeneem of toestemming gevra nie. Ek sou graag een van die sogenaamde permitte wil sien.
Verder is daar ‘n bordjie van die munisipaliteit langs die Waterfront wat sê: “Watersport op eie risiko”
Dit sal vir my nog steeds hartseer wees dat ons slegs met permitte of individuele toestemming kan gaan roei. Veral dat hulle twee dronk studente as rede gebruik vir permitte , terwyl ek nog nooit van ‘n insident gehoor het waar roeiers betrokke was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.