Bianca se branderplank klief deur medaljewaters

Bianca Buitendag in aksie teen Carissa Moore. Die Suid-Afrikaner het weliswaar die wind van voor in die eindronde gekry, maar sy kan baie trots wees op haar Olimpiese veldtog. Foto: Yuki Iwamura/AFP.

Op dieselfde dag as wat Tatjana Schoenmaker Suid-Afrika se eerste medalje by die Olimpiese Spele in Tokio gewen het, het Bianca Buitendag ook op haar branderplank geskitter.

Om ’n lang storie kort te maak: Groot dank aan Bianca op haar branderplank, want op ’n grys en onplesierige dag in Japan het die 27-jarige Kapenaar vir nog ’n reënboogvertoning gesorg toe sy  Suid-Afrika se tweede silwer medalje van die Spele ingeoes het.

Die topgekeurde Carissa Moore van die VSA het die goue medalje gewen nadat haar pogings vroeg vir punte op die telbord gesorg het.

Met haar derde golf het sy reeds ’n telling van 10,73 agter haar naam gehad, terwyl Buitendag met ’n 0,80 tevrede moes wees en noodgedwonge die Amerikaner moes jaag.

Ná 35 minute se aksie in die water – waar die golwe en stophorlosie net nie vir die Suid-Afrikaner wou saamspeel nie – het Moore ’n telling van 14,93 gehad en Buitendag 8,46.

Suid-Afrika se Bianca Buitendag (heel regs) saam met Amuro Tsuzuki (Japan) en Carissa Moore (VSA) op die podium. Foto: Yuki Iwamura/AFP.

Maar om die eerste silwer medalje vir branderplankry in die geskiedenis van die Olimpiese Spele te wen, is hoegenaamd nie ’n geringe prestasie nie.

Daarbenewens het Buitendag ook met gesoute branderplankryers soos Stephanie Gilmore (die sewemalige wêreldkampioen van Australië) en Caroline Marks in haar opmars na die eindstryd afgereken.

Ná haar spogvertoning teen Gilmore het die Suid-Afrikaner gesê dat dit in haar guns getel het om die buiteperd te wees.

“Ek het niks gehad om te verloor nie, so daar was absoluut geen druk nie,” het die 17de gekeurde toe gesê.

Maar ná haar Olimpiese veldtog is sy die trots van Suid-Afrika en spog met talle bewonderaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

piet ·

Geluk met die silwermedalje, sy het egter allesbehalwe “geskitter” in die finaal. Sy sal baie terleurgesteld wees met haar vertoning in die finaal. In die eerste plek het sy helfte van die beskikbare tyd gemors voor sy begin het, toe sy uiteindelik begin het, maak sy flopse en toe op die ou end hardloop die tyd vir haar uit. Die wenner was in ‘n klas van haar eie, pragtig gesurf.

Elmarie ·

Ag kyk nou weer vir ou negatiewe piet. Toe tog man, dis ‘n WONDERLIKE prestasie ons is almal trots op haar. Julle meisies ROCK by die Spele

piet ·

Alles behalwe negatief maar dit help nie om ons tekortkominge te verberg nie. Silwer medalje is ‘n wonderlike prestasie maar die feit bly dat sy uiters swak was in die finaal (die “show down” tussen haar en die ander meisie vir die goue medalje) en ek dink sy sal dit self erken ook. Sy het ‘n 5-3 voorsprong gehad in die “head-to-head” teen haar teenstaander. In die finaal het sy egter heeltemal uit die bus uitgeval teen haar. Het jy die finaal gesien?

Niklaas ·

Knap gedaan , Bianca. Dis een groot prestasie . Die SA medalje oes is maar skraal met hierdie Spele !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.