Bibberweer dié week op pad

(Foto: AfriSki/Martin Schultz via Twitter)

Suid-Afrikaners kan hulself staal vir bitterkoue weerstoestande wat met stormsterk wind en reënval gepaard gaan. Sneeu word ook in sommige dele van die land verwag.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Maandag gewaarsku dat ’n hewige kouefront die Wes-Kaap teen Woensdag gaan tref. Dit sal tot gevolg hê dat beduidende reënval en sneeu van Woensdag vir die hoogliggende gebiede in die Wes- en Oos-Kaap, sowel as die suidelike gebiede van die Noord-Kaap verwag kan word.

Sneeu word van Woensdagaand oor die Cederberge en Hexrivierberge in die Wes-Kaap asook oor die Roggeveldberge in die suidelike hoogliggende gebiede van die Noord-Kaap voorspel. Die sneeu gaan teen Donderdag ooswaarts na die hoogliggende gebiede van die Oos-Kaap en suidelike gebiede van die Vrystaat versprei. Sneeu kan moontlik tot Vrydag in die Oos-Kaap val.

Reënval van tussen 5 tot 20 mm word van Dinsdagmiddag vir dele van die Wes-Kaap verwag. Die reënval gaan glo tot Donderdag aanhou. Die weerdiens waarsku ook teen swaar reënval van tot 50 mm wat Woensdag tot oorstromings in dié provinsie kan lei. In die hoogliggende gebiede kan reënval van 20 tot 60 mm verwag word.

Winderige toestande word van Dinsdag oor die suidwestelike dele van die land verwag met stormsterk noordwestelike wind van 50 tot 70 km/h wat oor die binneland van die Wes- en Noord-Kaap gaan woed.

Dié sterk wind sal dan teen Woensdag ooswaarts in die rigting van die Vrystaat en die noordelike binneland van die Oos-Kaap versprei. Teen Donderdag sal die wind langs die westelike en suidelike kusstreke van die Wes-Kaap asook langs die Oos-Kaapse kus versprei.

Die weerdiens waarsku dat baie rowwe seetoestande saam met die sterk wind verwag kan word. Golwe van 4 tot 6 m hoog word langs die Suidweskus van die Wes-Kaap verwag wat dan na die Suidkus gaan versprei en teen Vrydag die KwaZulu-Natalse kus gaan bereik.

Die kouefront veroorsaak dat maksimum temperature van Woensdag in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap beduidend gaan daal. Teen Vrydag gaan die koue na die res van die gebiede in die Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en dele van KwaZulu-Natal versprei. Temperature gaan van Sondag weer begin stabiliseer.

Die weerdiens waarsku kleinveeboere in die Vrystaat, suidelike gebiede van die Noordwes en in dele van die Noord-Kaap teen erge ryp wat van Vrydag tot Maandag kan voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
netekalleen

En as.daar oorstromings is gaan dit ook seker op apartheid blameer word.

Duck

Hoe het my ma altyd gesè, “as die kat kleintjies kry is dit oor my skuld”