Bibberweer dié week verwag

Argieffoto: Sneeu in die Oos-Kaap. (Foto:Storm Report, Facebook)

Inwoners van die Kaapprovinsies gaan weer van Maandag af bibber, met maksimum temperature wat tot 10  ̊C kan daal. Sneeu word ook vir dele van die Wes- en Noord-Kaap voorspel. Die kouefront sal na verwagting Dinsdag na die binneland versprei en ryp word later die week vir groot dele van die binneland voorspel.

Volgens die Suid-Afrikaanse weerdiens (SAW) sal sterk winde na verwagting Maandag in die Kaapprovinsies woed, wat kan meebring dat skade aan eiendom in sommige plekke aangerig word. Stormsterk winde sal veral tussen Kaap Columbine en Kaap Agulhas woed en kan buitengewoon groot golwe van tot 6,5 m hoog veroorsaak. Dié golwe sal veral in die oggendure by Hondeklipbaai en Kaap Agulhas voorkom, waarsku die weerdiens. Dit sal na verwagting in die middae na Plettenbergbaai verskuif.

“Ongewoon groot golwe kan skade aanrig aan plaaslike infrastruktuur en dit moeilik maak vir klein seevaartuie om die see te navigeer,” het Hannelee Doubell, woordvoerder van die SAW, Sondag in ʼn verklaring gesê.

Reënval van tussen 30 mm en 40 mm word ook vir die Wes-Kaap voorspel en die weerdiens waarsku teen vloede oor die westelike gebiede van die Wes-Kaap. “Reën word ook voorspel vir die westelike dele van die Noord- en Oos-Kaap.”

Baie koue temperature word verwag en maksimum temperature van so laag soos 10  ̊C word vir gebiede oor die westelike berge van die Wes-Kaap en suidelike gebiede van die Noord-Kaap voorspel.

“Dit is ook dié gebiede waar daar ʼn moontlikheid van sneeu tussen 5 cm en 15 cm diep is,” sê Doubell. “In dié gebiede kan boere veral Maandag kwesbare vee en oeste weens die koue verloor.”

Winde langs die kus sal na verwagting Dinsdag bedaar, namate die kouefront na die sentrale provinsies beweeg. “Dele van die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap sal dan nóg kouer word en ryp word sedert Woensdag vir groot dele van die sentrale binneland voorspel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Hier in Kaapstad is ons baie dankbaar vir die reën. Ons damvlakke styg baie mooi. Ons wil nie weer ‘n erge droogte beleef nie. Dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.