Bibberweer op pad

Argieffoto: https://pixabay.com

Inwoners van Gauteng kan ook gereed maak vir ʼn ysige naweek, met ʼn kouefront wat die Wes-Kaap gaan tref.

Volgens Mbavhi Maliage, ʼn weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, tref ʼn kouefront die Wes-Kaap Woensdag en sal dit tot Donderdag voortduur. “Ons verwag reën in die Wes-Kaap veral aan die suidwestelike en suidelike kus,” het Maliage gesê. Kaapstad se maksimum temperatuur sal Donderdag slegs 16 °C en Vrydag 17 °C wees.

Volgens Maliage sal die kouefront dan Vrydag in ʼn oostelike rigting begin beweeg en Gauteng en Mpumalanga sal teen Saterdag die lae temperature begin voel. “Ons verwag ʼn maksimum temperatuur van 15 °C in die Vereeniging-omgewing en 17 °C in Pretoria.” Dit sal ook met reën gepaardgaan.

Volgens Maliage sal die temperature eers weer Maandag en vroeg Dinsdagoggend herstel en terugkeer na normaal en matig.

Die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal sal ook teen Saterdag die lae temperature begin ervaar. Durban se maksimum temperatuur is Saterdag 18 °C en Port Elizabeth se maksimum sal Donderdag 17 °C en Saterdag 18 °C wees.

Daar word ook Vrydag vroegoggend sneeu op die Drakensberg verwag. “Volgens ons voorspellings sal dit slegs Vrydagoggend sneeu en sal dit ook met reën gepaardgaan,” het Maliage gesê.

Polokwane sal ʼn matige naweek hê met maksimum temperature Vrydag 25 °C, Saterdag 20 °C  en Sondag 21 °C.

Kimberley in die Noord-kaap sal ook ʼn koue naweek hê met Vrydag se maksimum 20 °C, Saterdag 18 °C en Sondag 19 °C. Dié temperature sal ook met reën gepaardgaan.

Die Vrystaat kan ook maar gereed maak vir ʼn koue naweek met Bloemfontein se minimum temepratuur Saterdag 1 °C en maksimum temperatuur 16 °C, en Sondag slegs 1 °C en 17 °C.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Arie ·

So gaan my voorspelling dat die eerste naweek van Mei die koud te tyd van die jaar is be waarheid word.

My voorspelling is gegrond op ervaringe gedurende studentejare by Tekkies.
Die Tuks Jool op tog was in my tyd die eerste Saterdag in Mei van elke jaar. Dit was absoluut snerpent koud met die bou van die optogvlotte daardie tyd.
Weliswaar is dit nou nie meer die eerste naweek van Mei nie maar dan wel die eerste volwaardige week in Mei.
Nou is dit so.dat moede natuurlik haar nie juis steur aan menslike datums nie en daarom is my voorspelling naby genoeg om as korrek deur te gaan.
Mensig maar dit.gaan koud wees. Haal.maar voort dig die warm goed uit.

Stoffel ·

Jy moet maar op hou voorspellings maak, met aardverwarming gaan tye van seisoene, maks en min temperature drasties verander, as kind moes ons kookwater oor die kar se venster gooi om die ys af te kry, deesdae is die winters hier so matig ons dit seker 10 jaar laas gedoen

Nettie ·

Ag twak, man! Ons hier in die Noord-Boland distrik hoor net altyd van die reën wat val of oppad is! Daai kouefrontjie gaan natuurlik weer net aan Kaapstad en die Overberg raak en dan wegbeweeg in die rigting van die Oos-Kaap. En kyk, as dit mos nou reën in Gauteng, dan gaan die HELE land bibber van die koue!

Nettie ·

Ja, en so sit ons NOU NOG en wag vir daardie verskriklike koue en reën – dit was selfs warm gisteraand en daar het darem so ‘n ou buitjie geval (‘n hele 10 duim – elke druppel het 10 duim uitmekaar geval!).

Wagter ·

Uiteindelik !! Hierdie yskoud oggend en kookwarm dag temperature sal my mal maak, bly koud of warm, ek kan nie so aan en uit trek die heeltyd nie hehe

Tammy ·

Vergeet die koue dit is immers normaal en ons kan dit nie anders verwag nie. Wat ek eintlik wil se is daardie foto van die hondjie in sy kombers is die mooiste gesiggie en kikker my dag heeltemal op. Pragtig!!!!

Chris ·

Met die aardverwarming gaan ons nog onse sterte afvries. Dit sal reen in die Kaap in, wanneer die tyd reg is om reen te kry. Verlede jaar was die Vaaldam 20plus persent vol, en siedaar 7weke daarna knuppeldik vol. Ek dink dit is Langenhoven wat gesê het, “jy kan oor baie goed praat, maar hou jou bek van die weer af”.

jaco ·

Dis al Donderdagaand en daar het nog nie 1 druppel reën in die Kaap geval nie…

SARIE VAN HEERDEN ·

Baie jare gelede toe my kinders nog klein was kon ons die weer “voorspel”. Ons het geweet dat ons somersklere kon dra tot die naweek na die 7de April wanneer ek verjaar het. My oudste dogtertjie het op 7 September verjaar en het ek geweet ek kon nie ‘n ’buite verjaardagpartytjie” vir haar reel nie want dan het dit gereen. Nou weet ons nie meer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.