Bibberweer op pad

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarsku teen ’n reeks kouefronte, met die eerste een wat reeds teen die einde van die naweek die land sal tref. Die land se inwoners kan gevolglik volgende week laer temperature, sterk winde en selfs reën op plekke verwag.

Die eerste kouefront sal die Wes-Kaap teen Sondag bereik, waarna dit na die oostelike dele van die land sal beweeg en tot Woensdag voortduur. Die tweede kouefront sal dan teen Maandagaand sy opwagting in die Wes-Kaap maak.

Hannelee Doubell, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê die kouefronte sal na verwagting tot sterk winde, hoë golwe, swaar reënval, ligte sneeu en ’n aansienlike daling in temperature lei.

“Sterk noordwestelike winde van tussen 50 km/h en 60 km/h en rukwinde van tot 80 km/h word van Sondag af oor die suidelike dele van die Noord-Kaap en die Wes- en Oos-Kaapse binneland verwag. Hierdie sterk winde kan tot skade aan formele en informele nedersettings lei, asook moontlike strukturele skade in hierdie gebiede aanrig,” sê Doubell.

Golwe met hoogtes van 4 m tot 4,5 m word vir Maandagoggend tussen Kaappunt en Kaap Agulhas voorspel. Dit sal na verwagting tot die middag voortduur. Saam met hierdie golwe word sterk noordwestelike winde (van tussen 50 km/h en 60 km/h) langs dieselfde kus verwag.

“Swaar reën van tussen 50 mm en 80 mm word van Maandag af in die suidwestelike dele van die Wes-Kaap verwag en sal na verwagting tot Woensdagmiddag voortduur. Die reën sal teen Dinsdag na die Oos-Kaap versprei.”

Maksimum en minimum temperature sal na verwagting Maandag oor die hele Wes-Kaap en Namakwa-distrik aansienlik daal. Die noordelike dele van die land kan teen Woensdag ook laer temperature verwag.

Die koue kan ook met moontlike sneeu gepaardgaan in die suidelike dele van Namakwaland, asook die hoogliggende gebiede van die Wes- en Oos-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Lekker warm stort. In die warm pajamas in, sit die bed verwarmer af, trek die 20000 komberse oor jou, en sink in droomland in. Maar dan maak jou blaas jou 3vm wakker, en jy moet ‘n besluit maak….of in die koue uit, of maak die bed nat!

piet ·

Die ou mense het altyd ‘n pot onder die bed gehou. Dalk nie so ‘n slegte idee as dit so vrek koud is om op te staan nie.

annie ·

My ouma-hul het destyds goue ponde daarin gebêre. Deesdae $s. So verander tye, nê?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.