Biblioteke se slim plan help duisende boeke terugkry

‘n Biblioteek in Kaapstad. Foto: Verskaf

Die rakke van Kaapstad se biblioteke is aansienlik voller nadat meer as 13 400 uitstaande boeke en ander items terugbesorg is toe die Stad inwoners die geleentheid gebied het om dié items boete-vry terug te besorg.

Stad Kaapstad het besluit om deur middel van dié inisiatief inwoners aan te moedig om biblioteekitems terug te bring sodat biblioteke se kosbare voorraad nie verlore gaan nie.

En wat ʼn blink plan was dit nie!

Binne twee weke is 13 432 items ter waarde van R2,7 miljoen aan biblioteke terugbesorg. Getrou aan hul woord het die Stad boetes ter waarde van R157 000 afgeskryf en kan al die inwoners weer met ʼn geruste hart van die biblioteke gebruik maak.

JP Smith, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê die eerste boete-vrye week was in Maart vanjaar tydens Nasionale Biblioteekweek.

Inwoners kon in dié week enige agterstallige boeke, studiegidse en DVD’s terugbring sonder dat hulle beboet sou word. Selfs swartlys-items is sonder die betaling van enige boetes terug aanvaar. Items word op biblioteke se stelsels geswartlys wanneer dit langer as drie maande laat is.

In dié week in Maart is 6 067 items terugbesorg, waarvan 2 319 items op die swartlys was.

Verlede maand het die Stad weereens die inisiatief tydens Nasionale Boekeweek probeer. Dié keer het 7 365 items hul pad na die biblioteke teruggevind, insluitend 972 items wat op die swartlys was.

“Aan die begin van die jaar was ons bibliotekarisse vasbeslote om alles in hul vermoë te doen om uitstaande items terug te kry en die idee van boete-vrye tydperke het hieruit gespruit,” sê Smith.

‘n Biblioteek in Kaapstad. Foto: Verskaf

“Biblioteekgebruikers ontvang ʼn SMS drie dae voordat ʼn item aan die biblioteek terugbesorg moet word om hulle daaraan te herinner. Wanneer die item dan nié terugbesorg word nie, moet biblioteekpersoneel die gebruikers bel in ʼn poging om die item terug te kry. Dit is baie tydrowend en het ʼn impak op die dienslewering teenoor ander biblioteekklante.”

Smith verduidelik verder dat afgesien van die finansiële verlies wat die biblioteke ly wanneer items nie teruggebring word nie, ontneem dit ook ander inwoners van die vreugde om die boek te lees of DVD te kyk.

“Biblioteke probeer om hul verliese tot die minimum te hou, maar as elkeen van ons 300 000 kliënte besluit om net een item nie terug te bring nie, sal ons biblioteekversamelings heeltemal uitgeput wees, wat ons gemeenskappe beroof van die voordeel daarvan om biblioteekmateriaal te gebruik.”

Hy het ʼn beroep op inwoners gedoen om biblioteekitems betyds terug te neem en persone wat nog in besit van uitstaande items is, om dit terug te besorg. “Soms is ʼn boek of ʼn fliek soveel pret dat jy dit net eenvoudig weer moet lees of kyk en dan kan jy sommer daardie item telefonies hernu. Om bloot ʼn item wat aan die biblioteek behoort te hou, ontneem ander van die vreugde om dit te gebruik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

trol ·

hoop hulle gaan landwyd by biblioteke amnestie verleen. wat n goeie plan.

Ryan ·

A catch 22 ene die. Ek dink dis belaglik dat dit moet gebeur. Toekomsige uitnemers gaan maar net weer versuim om terug te vat en dit hou tot die volgende amnestie, maar hoe anders kry jy dit terug? My voorstel, laat elke uitnemer teken dat hul staats eiendom leen, tot die bepaalde datum (gewoonlik wat.. 2 of 3 weke)en hul adresse bysit. Elke biblioteek moet dan ‘n soortvan “sheriff” hê wat diegene wat laat is met die terugbring gaan aanmaan met ‘n brief wat noem daar binne drie dae moet reageer word, of daar sal regstappe geneem word om ‘n hofbevel te bekom.(Daar skep ons nog werk en seker ‘n deur vir korrupsie)maak dan ‘n voorbeeld van een of twee en mense sal terugbring, ek waarborg jou.

Elsa ·

Wanneer jy by die biblioteek aan sluit, moet jy jou adres verskaf. Ek behoort 40 jaar + aan ons biblioteek.

Ryan ·

Maar weereens, als begin met dissipline. As jy goeie dissipline handhaaf, respek hê vir jou mede mens, glo ek jy sal self respek ook hê en dit wat jy geleen het vroegtydig terugbesorg..

Cherokee ·

Ek gaan die Ethekweni Munisipaliteit oorreed om alle verkeersoortreders wat nie betrap is nie, te vergewe met die voorwaarde hulle doen dit nie weer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.