Bid, glo en vertrou is buurtwaglid se pleidooi ná hy geskiet is

Nico Henning (45), die AfriForum-buurtwaglid wat in Augustus tydens ’n rooftog in Pretoria-Wes met ’n AK-47 in die rug geskiet is, is stadig maar seker op die pad van herstel. Foto: Rozier van Tonder.

Nico Henning (45), die AfriForum-buurtwaglid wat in Augustus tydens ’n rooftog in Pretoria-Wes met ’n AK-47 in die rug geskiet is, is stadig maar seker op die pad van herstel.

Henning het vandag in sy huis in Danville vertel wat presies op daardie dag gebeur het toe ’n werknemer van OK Grocer in Danville die buurtwag gekontak en vir bystand gevra het.

Henning en van sy kollegas het op die noodoproep gereageer, maar nie besef dit is ’n gewapende roof nie. “As ons dit geweet het, sou ons nie na die toneel gegaan het nie.”

Henning het in die rowers se spervuur beland en ’n koeël het hom regdeur die agterkant van sy motor in die rug getref.

Hy kon daarin slaag om tot by die huis te jaag, waarna sy vrou, Linda, hom na die Pretoria-Wes-hospitaal geneem het waar hulle niks vir hom kon doen nie. Daarna is hy na die Kalafong-hospitaal waar hy gestabiliseer is.

Hy is met die hulp van AfriForum per helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem.

Henning het baie ernstige beserings opgedoen en tydens sy verblyf van ses weke in die hospitaal is sy linkernier, ’n stuk van sy lewer en ’n stuk van sy dikderm verwyder en sy dunderm herstel. Hy het ook skade aan sy pankreas opgedoen.

Die mediese span het gesê Henning sou verlam gewees het indien die koeël hom net 2 mm na regs in die rug getref het.

Henning, ’n werknemer van Transnet, sê hy besef dat die herstelpad nog lank is. “Ek word nog baie gou moeg en moet die dokter weer op 14 November sien.

“Ek was egter van die begin af positief en ek glo dat ek met die Here se hulp gaan regkom.”

Linda het vertel dat dit haar ergste vrees was dat sy haar man nooit weer gaan sien nie. “Hierdie ding het my hele siening oor die lewe verander. Om hom weer by die huis te hê, is die grootste geskenk wat ek kon kry.”

Die Hennings het groot lof vir die wyse waarop AfriForum hulle deurgaans bygestaan het. “Ons weet nie of ons hierdeur sou kom as dit nie AfriForum was nie.”

Henning hoop om in Januarie na sy werk te kan terugkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elene ·

Ons is sooo dankbaar dat jy besig is om te herstel! Sterkte en vasbyt en ons beste wense vir jou vir n volkome herstel?

Hennie ·

Die regering moet eintlik gedagvaar word om die mediese kostes te betaal.

Jerry ·

Spoedige herstel Nico. Jou skepper is jou baie genadig met jou tweede kans op lewe. Die voorval waarby jy geskiet is het seersekerlik baie GPF lede laat besef dat deesdae se rooftogte baie vinnig in oorlogsones ontaard vanwee die rowers se modus operandi om eerste te skiet en daarna wild en wakker aan te hou skiet met outomatiese masjiengewere. Van die rowers is ook militer opgelei en kom uit oorloggeteisterde gebiede in Afrika. GPF lede moet dus maar net optree as die oe en ore van die gemeenskap en aan die SAPD rapporteer wie die mandaat het om te reageer.

Onnie ·

Sy linkerknie verwyder??? Is dit hoegenaamd moontik?? Serkte Nico!

Knie ·

Lees weer die artikel; nerens word daar gemeld dat sy linkerKNIE verwyder is nie. Sy linkerNIER is erg beskadig en moes verwyder word.

IK ·

En in Meyerton is ‘n GPF-lid TIEN (10) skote geskiet en slegs ‘n wonderwerk het hom gered.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.