‘Bid vir ons,’ vra familie ná tragedie in NZ

Die Dickason-sussies is Donderdag dood in hul huis in Nieu-Seeland aangetref. (Foto: Facebook)

Familielede van die drie Suid-Afrikaanse kinders wat Donderdag in Nieu-Seeland dood is, sê hulle is verpletter en ly steeds aan skok.

Dr. Graham Dickason, ʼn voormalige inwoner van Pretoria, het Donderdag op die liggame van sy drie jong dogters, Maya en Karla (3), en hul ouer sussie, Liane (7), by hul huis in die hawestad Timaru afgekom.

Dickason en sy vrou, Lauren, ook ʼn dokter, het verlede week saam met hulle kroos in dié stad aangekom nadat hulle eers in kwarantyn was met hul aankoms in Nieu-Seeland van Suid-Afrika af.

ʼn Vrou is ook op die eiendom aangetref en word luidens berigte in die hospitaal behandel. Haar naam is nie bekendgemaak nie.

Luidens internasionale berigte is dié vrou die verdagte in ʼn ondersoek wat intussen deur die polisie in Nieu-Seeland oopgemaak is. Internasionale media berig bure het glo gehoor hoe die pa skree, “is hierdie werklik besig om te gebeur?”

Malcolm Fawkes, Lauren se pa, het Vrydag aan Maroela Media gesê die familie “probeer nog begryp wat gebeur het”.

“Ek en Wendy [Lauren se ma] was verpletter om gisteraand te verneem van die verskriklike tragedie wat ons familie in Nieu-Seeland gely het.

“Die uitgebreide familie ly steeds aan skok terwyl ons probeer om te begryp wat gebeur het.”

Fawkes het die personeel van die Timaru-hospitaal vir hulle ondersteuning bedank, asook die plaaslike polisie in Nieu-Seeland vir die aandag wat hulle aan die saak skenk.

“Ons vra gebede en ondersteuning gedurende hierdie uiters moeilike tyd,” het Fawkes Vrydag gesê.

Fawkes het ook gevra dat die gesin se privaatheid gerespekteer word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Cornelia ·

Baie sterkte aan die famlie en vriende, dit is baie hartseer, ons hou julle in ons gebede.

Sandra ·

My innige simpatie met die familie. Dit is ‘n te harde slag vir die familie op die oomblik.

Eddie ·

Dit is hartseer, baie. NZ is baie sensitief vir wat hulle publiseer so sal nog nie bespiegel voor die finale woord uit is nie, die vrou is in die huis in hegtenis geneem volgens NZ berigte. Polisie soek niemand verder in verband nie. Dit was n “familie onderonsie”.

Misky ·

Daai arme man en familie. Hoe verwerk mens ooit so iets….. Ons hou julle in ons gebede

Martie ·

Dit is so hartseer, hulle het heel moontlik NZ toe getrek om ‘n beter lewe vir die kinders te verseker, en nou dit.

Samuel ·

Ongelooflike tragedie. Sterkte aan familie en ons bid vir julle.

Skappie ·

Hierdie is baie erg. Wie sal nou dink dat hierdie gesin van Suid Afrika na New Zeeland toe, daar sulke slegte ding oorgekom het. Jammer van julle drie pragtige dogtertjies. Sterkte aan julle as ‘n gesin, hierdie kan glad nie maklik wees vir die ouers nie. Mag onse Liewe Jesus julle deur hierdie moeilike tyd dra en julle styf vashou in Sy arms.

Lee ·

Sterkte vir die familie en geliefdes. Dink aan julle in hierdie baie hartseer tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.