Bid vir wonderwerk of vryheid, vra Adam se gesin

Adam Barnard (Foto: Jakkie Louw/Facebook)

Die sanger Adam Barnard, voormalige lid van die gewilde mansgroep Romanz, se gesin vra dat mense vir God se wil moet bid – óf vir ʼn wonderwerk op aarde, óf die vryheid van die ewige lewe.

Maroela Media het vroeër berig Adam het vandeesweek in ʼn koma verval nadat sy toestand versleg het.

Almitra Barnard, Adam se vrou, sê haar man het sedert Augustus 2021 ʼn reeks traumatiese struikelblokke ervaar en oorkom. “Sommiges het letsels gelos, ander nie. Sommiges het ons laat skrik en toe het ons al gewonder of hy dit sal oorleef. Dan bewys hy ons elke keer dat hy die wilskrag van Jesus het.”

Sy sê in Februarie 2022 het hy opgestaan uit sekerlik die swakste toestand wat hy nog was. “Hy het ons daagliks verbaas. Ons het verstom gestaan en kyk en geweet hierdie sal hy deurkom en oor ‘n paar maande weer probeer werk aan ‘n oorplanting.

“Hierdie keer was anders. Sy liggaam is moeg. Sy siel en gees is moeg. Toe hy hoor dat hy weer opgeneem sou word vir infeksie, was dit soos ‘n rots wat hy moet dra. Dit was aanvanklik nie so ernstig nie en sou vinnig wees. Tot verlede Saterdag wat hy weer op die ventilator gesit is. Hy het enkele oomblikke voor dit nog gepraat. Daarna het hy nog nie weer bewussyn bereik nie en min tot geen reaksie getoon nie.”

Almitra sê Adam het tans ‘n span van vier dokters oor hom – die beste.

“Ons as familie het hierdie gesprek deur en deur en oor en oor gehad. Adam is ‘n vegter. Hy het vir 37 jaar geveg. Hy het nou vir die eerste keer in baie lank geen pyn of ongemak nie. Dit is ons wens vir hom. Ons almal poog daagliks om beter mense te wees sodat ons uiteindelik die hemel kan betree. Waarom dan die dood so vrees? Dit bly God se wil. En Adam se wil was om voluit te leef. So ons bid nou dat indien hy dit oorleef dat hy funksioneel sal wees en voluit kan leef. Indien God hom na sy ewige huis toe neem, het ons vrede daarmee. Adam verdien rus. Hy verdien om weer ‘n liggaam te hê wat kan hardloop en sing. Hy verdien om pynvry te wees.

“Bid asseblief saam met ons vir God se wil. Wêreldwyd bid mense, so kom ons staan saam vir óf ‘n wonderwerk op aarde óf die vryheid van die ewige lewe.”

Almitra het ook dankie gesê aan almal wat probeer om ʼn moontlike skenker aan hulle bekend te stel. “Die probleem is egter dat Adam tans net te swak is vir ʼn oorplanting. Die pasiënt moet optimaal gesond wees met nierversaking om ʼn nier te kan ontvang.”

Sy sê hulle weet wel van ʼn vrou wat graag wil skenk en sy wag al ʼn geruime tyd om getoets te word, maar as gevolg van al die hospitalisasies, moes hulle tot dusver nog wag.

“Indien jy vir Adam wou skenk, glo ek jy sal graag vir iemand anders ook wil skenk. Volg die skakel en red ʼn lewe: https://www.odf.org.za.”

Die sanger Jakkie Louw het bygevoeg Adam is ʼn hartsmens en is baie lief vir die Here. “Hy praat al die jare só. Ek kyk baie op na hom.”

Jakkie vertel hoe hy en Adam twaalf jaar gelede saam as ʼn groep vriende vakansie gehou het in Ballito. “Hy het nog gespog oor sy pragtige meisie Almitra met wie hy nog eendag mee gaan trou. So opgewonde en verlief soos net ʼn jong man kan wees. Regtig ʼn topmens. Hy het later met sy droomvrou getrou en hulle het ook ʼn dogtertjie saam. Ek het hom gaan besoek in Parys en hy was so trots op sy jong gesin. Hy het daai tyd al begin siek raak.”

Jakkie sê dit is al baie jare dat Adam nie ʼn gesonde en geskikte skenker kon kry nie. “Dis net konstante lyding en doodloopstrate. Bid asseblief dat die liewe Here Jesus Christus hom vat waar hy moet wees. ʼn Plek sonder lyding. Verstaan my asseblief reg: as hy moet lewe en gesond word, bid asseblief daarvoor. Ek vra net dat die Here se wil geskied. My hart breek vir sy gesin. Ons almal is baie bitter lief vir jou bra Adam.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.