Big Daddy finaal gegroet

Lance James se kis voor in die kerk, waarop sy kenmerkende cowboy-hoed gepryk het. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

ʼn Pa vir sy familie en die pa van countrymusiek. Só sal Lance James, die countrylegende wat verlede Maandag in die ouderdom van 81 oorlede is, deur vriende en familie onthou word.

Honderde mense, sommige geklee in country-klere en cowboy-hoede, het Woensdag die sanger se begrafnisdiens in Johannesburg bygewoon. Ander countrylegendes soos Clive Bruce, Bobby Angel, Tommy Dell en Barbara Ray was ook daar om hul sangmaat en vriend te groet.

Steve Hofmeyr, Carike Keuzenkamp, Rina Hugo, Min Shaw, Martin Lane, Lydia Winchester, Boet Pretorius, Jakkie Louw en Manie Jackson het ook die diens bygewoon.

Chanel Floyd, James se dogter wat uit Brittanje gekom het om die diens by te woon, het ʼn roerende huldeblyk aan haar pa gelewer. Floyd het onder meer herinneringe van seevakansies saam met haar pa op Margate gedeel.

Lance James se begrafnisdiens het Woensdag in Johannesburg plaasgevind. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“My pa was gaaf, teer en nuuskierig. As jy met hom gepraat het, het hy na jou geluister asof jy die enigste persoon in die vertrek is. Ons het altyd geweet dat ons ʼn merkwaardige pa het, maar eers met die geboorte van sy kleinkinders het dit by ons ingesink net presies hoé geseënd ons is,” het ʼn emosionele Floyd gesê.

James se kleinseun Declan Domyan wat in die VSA studeer, het ook die diens bygewoon. “My oupa het ʼn stoute sin vir humor gehad. Met my eerste dag in ʼn nuwe skool het ek hom gevra om asseblief so ver as moontlik van die skool se hek af te parkeer wanneer hy my kom haal. Daardie middag het hy egter met ʼn hele skare opgedaag om my by die skoolhek te groet,” het Domyan bewoë vertel.

Hy het ook ʼn brief deur sy broer wat nie die diens kon bywoon nie, voorgelees. “Ons sal ons oupa en sy appelkooskonfytbroodjies nooit vergeet nie,” het hy gesê.

Lance James se country-vriende, onder meer Barbara Ray en Clive Bruce, het die lied “We’ll meet again” gesing tydens die diens. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Steve Hofmeyr, Clive Bruce, Billy Forrest en Bobby Angel was onder James se kisdraers. Die kis is op die maat van “Dankie”, een van James se grootste treffers, uit die kerksaal gedra. Tommy Dell en Manie Jackson het ook afsonderlike huldeblyke aan James gelewer.

“Ek weier om vir Lance te groet, want hy lééf nog voort. Hy lééf nog deur sy musiek en in ons harte,” het Dell gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
AmY

RIV Big Daddy.

Tinker

Uitstekende sanger en n legende. Hy sal aanhou leef deur sy musiek.

John

n Groot boom het geval ...lank lewe sy nagedagtenis voort. Dankie Maroela virn volledige dekking met die fotos ingeklee word baie waardeer, maak mens eintlik hartseer. RIV