Binneland bibber Vrydag éérs

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Suid-Afrikaners in die binneland het Donderdag gebibber met minimum temperature wat op talle plekke landwyd tot ver onder vriespunt gedaal het.

Volgens voorspellings van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SANW) sou Ficksburg in die Vrystaat ʼn minimum temperatuur van -9  ̊C aanteken, die laagste in die land. Kroonstad, Bethlehem en Welkom sou elk ʼn temperatuur van -6  ̊C aanteken en in Klerksdorp, Noordwes sou die kwik tot -6   ̊C daal.

In die Noord-Kaap is dit die koudste in Postmasburg en Sutherland, wat elk ʼn minimum temperatuur van -5  ̊C na verwagting sou aanteken.

Die warmste plekke in Suid-Afrika Donderdag is Mbombela in Mpumalanga en Phalaborwa en Tzaneen in Limpopo, waar ʼn minimum van 6  ̊C en ʼn maksimum van tussen 20 en 24 °C voorspel word.

Die vooruitsigte vir Vrydag lyk nie veel beter nie, met minimum temperature van tussen -6 °C en -10 °C wat Vrydagoggend vir die Vrystaat, dele van die Noord-Kaap, Oos-Kaap, Noordwes, Gauteng en die Hoëveld van Mpumalanga voorspel word.

Wayne Venter, weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het Donderdagoggend aan Maroela Media gesê die binneland van die Oos-Kaap –  Cradock, Aliwal-Noord en Barkly-Oos – gaan egter vandag die ergste koue beleef, met maksimum temperature wat tussen 5 °C en 13 °C wat hier verwag word.

Maroela Media het vroeër berig dele van die Wes-Kaap en Noord-Kaap is reeds Maandag deur ’n kouefront getref. Volgens Venter het ’n tweede, sterker kouefront intussen hiér getref en begin dit nou ook na die res van die land beweeg.

“Die kouefront [lugmassa] het reeds oor die Oos-Kaap en die Wes-Kaap beweeg en beweeg nou oor die Noord-Kaap en Vrystaat. Dit behoort deur die loop van vandag Noordwes en Gauteng te bereik.”

Venter verwag dat die koue vir nog twee tot drie dae sal duur voordat dit teen Maandag sal begin skiet gee.

Suid-Afrikaners wat meen dat hierdie winter veel kouer as verlede jaar s’n is, is in die kol. Venter sê vroeë aanduidings dui daarop dat vanjaar se winterstemperature eintlik “normaal” is, vergeleke met verlede jaar toe Suid-Afrika warmer temperature as gewoonlik gedurende die winterseisoen aangeteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elinette

D-d-d-dis b-b-b-bibber koud hier in Worcester ook. Nou nie “kapok” op die grond nie, maar wel sneeu-bedekte bergpieke. Maar …e… die 2°C wat dit vanoggend was, is b-b-b-bibberkoud vir ou bene soos myne!

Belinda

dis klaar koud hier in JHB… hoe koud wil dit nog word. Maar gelukkig skyn die son. dit help so kleeeeeiiiiin bietjie!

Cherokee

Selfs die sub-tropiese Durban het ‘n bitsige byt in die lug.

Kathleen

gelukkig na die winter kom die somer , ek was 1 keer so paar jaar gelede in Aliwal Noord gedurende die winter , ek dink dit was die naaste wat ek aan dood gekom het weens die koue , seker naas Sutherland die koudste plek in Suid Afrika