Binneland kan teen Vrydag lafenis verwag

Argieffoto

Die hittegolf wat dele van Suid-Afrika die afgelope week getref het, duur Woensdag voort met temperature wat na verwagting tot in die hoë 30’s sal styg.

Die kwik sal na verwagting in Pretoria by 39 °C gaan draai, terwyl Johannesburg se maksimum temperatuur na verwagting 37 °C sal wees en Vereeniging 36 °C.

Die weerdiens Gauteng Weather (@tWeatherSA) het getwiet mense kan lewens help red deur bottels water uit te deel aan haweloses, werkers en diegene wat hul brood in die buitelug verdien. Van die simptome van sonsteek waarop gelet moet word, is erge hoofpyn, disoriëntasie, naarheid, braking, ernstige dors, swakheid en krampe.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het aan die begin van die week gewaarsku teen konstante hoë temperature oor Gauteng, die westelike hoëveld van Mpumalanga, die Bosveld in die suidweste van Limpopo, Noordwes, Vrystaat en die noordelike en noordoostelike dele van die Noord-Kaap, berig African News Agency.

Die kwik daal Donderdag effens oor dié streke en provinsies, maar teen Vrydag kan dit aansienlik koeler wees wanneer 27 °C vir Johannesburg voorspel word en 29 °C vir Pretoria. Saterdag word ʼn aangename 24 °C in Pretoria verwag en 21 °C in Johannesburg.

Intussen draai die kwik na verwagting vandag in die Kaap by 23 °C. Vir Donderdag word ʼn maksimum temperatuur van 22 °C voorspel en vir Vrydag en Saterdag 25 °C, maar oor die Boland styg die kwik vandag tot 27 °C, Donderdag tot 26 °C, Vrydag tot 34 °C en Saterdag tot 37 °C.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.