Binnelandse sake: Derduisende leerders steeds sonder ID’s

Dr. Aaron Motsoaledi (Foto: GCIS)

Derduisende leerders in Suid-Afrika het steeds nie identiteitsdokumente (ID’s) nie. Sonder dié dokument kan leerders nie die matriekeksamen aflê nie.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het Vrydag gesê sy departement het ʼn verslag van die departement van basiese onderwys ontvang waarin daar aangedui word dat 637 767 leerders in die land in dié stadium nie ID’s het nie.

Dié onthulling is gemaak gedurende Motsoaledi se aankondiging oor maatreëls wat gedurende vlak 2 van die afsonderingstydperk by die departement van binnelandse sake sal geld.

Volgens Motsoaledi kan diegene wat nog nooit aansoek om ʼn ID-boek of ID-kaart gedoen het nie, gedurende vlak 2 van die afsonderingstydperk vir die eerste keer aansoek om dié dokument doen.

Suid-Afrikaners in die buiteland wat dringend moet huiswaarts keer, kan ook nou aansoek doen om ʼn noodpaspoort, het die minister gesê.

Ander maatreëls wat gedurende vlak 2 geld, sluit in:

  • Alle tydelike identiteitsertifikate wat gedurende die ramptoestand uitgereik en nog nie teen die afgelope Dinsdag verval het nie, word nou tot 31 Oktober verleng.
  • Mense wat oor ʼn tydelike ID beskik wat gedurende die ramptoestand uitgereik is en intussen verval het, kan nou aansoek doen om hul permanente ID (ID-kaart of ID-boek).
  • Mense kan nou aansoek doen om persoonlike besonderhede te laat wysig of reg te stel.

Volgens Motsoaledi kan diegene wat voor die instel van die algehele landwye afsondering aansoek gedoen het om ID-kaarte en paspoorte, dié dokumente nou by die onderskeie banke gaan afhaal wat in samewerking met die departement optree. Die dokumente kan egter net op Maandae, Woensdae en Vrydae gedurende die betrokke bank se werksure afgehaal word.

Nuwe aansoeke word egter nié gedurende vlak 2 toegelaat nie en die departement se aanlyn portaal bly buite werking.

Die minister het vanoggend gesê sy departement het sedert 27 Maart met die instel van die algehele landwye afsondering tot die afgelope Dinsdag reeds 347 787 tydelike ID’s uitgereik waarvan 65 129 reeds verval het.

Altesaam 195 474 paspoorte is in dié tydperk uitgereik hoewel dit meestal aan mense uitgereik is wat betrokke is by noodsaaklike dienste gedurende die algehele landwye afsondering.

Die departement se immigrasiebeamptes het om die beurt 839 004 mense bygestaan ​​om onder die toelaatbare voorwaardes die land se grense oor te steek.

Volgens Motsoaledi is die meeste van hierdie mense buitelandse burgers wat na hul lande teruggekeer het en Suid-Afrikaners wat vanaf die buiteland huiswaarts gekeer het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wondermaarnet ·

Wat ‘n klug. Sê eerder “SEKERE leerders kan nie die eksamen aflê sonder hierdie dokument nie”. Die kastige agtergeblewenis hoef niks te hê nie en mag skryf.

Jacobus ·

Stomgeslaan deur chaos – hoe kan ‘n land funksioneer en groei. ANC se boekie raak nou vol. Waarom is mr Lesufi so stil . Dit raak mos onderwys ten diepste.

Leana ·

Regstelling: ANC se boekie is lankal uitgebrand saam met die res van die land. Hulle skryf op die oomblik op “scrap” papier.

Adam Adriaan ·

En so stort alles oor die afgrond in die donker dieptes in. Wie is te blameer? Ek wonder wat gaan die antwoord wees!!

annie ·

Hierdie is ‘n vreemder as vreemde storie. Die pandemie het nog nie jare geduur nie sodat mens kon glo duisende mense kon nie dokumente bekom nie. Babas se name word geregistreer by geboorte in ontwikkelde lande; ten minste ook by ons. Hier woon duisende uitlanders met slim planne om dubbele burgerskap te bekom vandaar dat duisende heen-en-weer oor die grense beweeg.

Sêmanet ·

Waarom stuur hulle nie Binnelandse sake na die skole toe om dit makliker te maak nie. My oudste seun het syne so gekry.

Anton ·

Ware verhaal oor hoe dinge kan werk as mense wil. So 15 jaar gelede is ek en n klient in Lagos, hy word beroof op pad na my hotel toe. Sy aktetas met sy paspoort weg. Drie dae later het hy n splinter nuwe paspoort in sy hande. Die land met die puik diens en ware ondersteuning aan hom? Indie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.